Zim, Botswana kondig jag-beperkings aan

Deel op

Zimbabwiese owerhede het beperkings op jag rondom die land se grootste wildreservaat aangekondig as gevolg van die “omstredenheid” wat veroorsaak is nadat die bekende leeu Cecil deur ’n Amerikaanse tandarts doodgemaak is, het News24 berig.

“Die jag van leeus, luiperds en olifante buite die Hwange Nasionale Park word onmiddellik gestaak,” het Edson Chidziya, die hoof van die Zimbabwiese parke- en -wildleweagentskap (ZPWA) gesê.

Jagtogte met pyl en boog is ook verbied, behalwe met spesiale toestemming deur dié owerheid se hoof.
“Sulke jagtogte sal nét deur geskrewe toestemming deur die direkteur-generaal van Zimbabwe se Parke en Wildsbestuursowerheid mag plaasvind,” het Chidziya gesê.

Die ZPWA het Amerika Vrydag amptelik versoek om die jagter wat die swartmaanhaarleeu, geskiet het, uit te lewer.

Zimbabwe kan nie toelaat dat “ryk, buitelandse stropers” sy wild steel nie. “Ons vra daarom dat Amerika (dr. Walter) Palmer aan ons uitlewer sodat hy hier vir sy daad kan kom boet.”

Die Regering van Botswana het dit ook duidelik gemaak dat sportjagters nie welkom is nie.

Regeringswoordvoerder Jeff Ramsay het gesê sportjag is nou verbied in Botswana en verlede jaar het die regering opgetree om te verseker dat Botswana se leeus en ander groot karnivore vir die sogenaamde “geblikte jag” nie na Suid-Afrika of enige ander land uitgevoer word nie.

Hy het Zimbabwe geloof vir hul “flinke” optrede. Ramsay sê die enigste plekke waar “uitbuiting” kan voorkom is op private wildsplase.

Hy het benadruk dat die regering geen jaglisensies uitreik nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.