OB se mediakonferensie maak opslae

Deel op

Die Openbare Beskermer hou vol dat daar geen regsgronde is vir die minister van Polisie se verslag oor veiligheidsopgraderings aan president Jacob Zuma se private woning nie.

Thuli Madonsela het by ‘n mediakonferensie gesê sy rig haar tot die parlement deur die media, nadat die ANC geweier het om haar voor die ad hoc komitee oor Nkandla te laat getuig.

Madonsela sê haar kantoor is geregtig op dieselfde respek as dié van die Ouditeur-Generaal en die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

Mandonsela se mediakonferensie is die eerste keer sedert Suid-Afrika ‘n grondwetlike demokrasie gekry het, dat die Parlement op ‘n nuwe wyse gedwing word om na haar te luister.

Die ANC sê egter dit is onaanvaarbaar dat ‘n instelling wat aan die parlement verantwoordbaar is, inmeng in parlementêre prosesse.

Die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga het in reaksie op Madonsela se nuuskonferensie gesê dit is ‘n onaanvaarbare inmenging in die parlementêre proses en dat Madonsela die perke van haar kantoor oorskry het.

Madonsela se oproep dat die Speaker tussenbeide moet tree, is deur die IVP verwerp. Hulle het in hulle reaksie gesê die geskil tussen die Openbare Beskermer en lede van die uitvoerende gesag is nie goed vir demokrasie in die land nie.

Intussen sal ‘n aansoek om die Speaker van die parlement, Baleka Mbete, onbevoeg te verklaar vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.

Die opposisiepartye, Agang, die UDM en Cope wil ook hê die hof moet beslis dat Mbete nie as speaker kan optree wanneer daar ‘n debat oor ‘n mosie van wantroue in die president is nie.

Agang se parlementêre leier, Andries Tlouamma sê daar is genoeg bewyse om aan die hof te toon dat Mbete meer lojaal teenoor die ANC as teenoor die parlement as instelling is.

Die ANC in die parlement het Mbete verdedig, en sê die hofaansoek is belaglik. ‘n Woordvoerder van die ANC koukus, Moloto Mothapo sê daar is geen wettige of grondwetlike basis vir die hofaansoek om suksesvol te wees nie.

Mothapo sê die ANC glo steeds dat Mbete die regte persoon is om as speaker op te tree, en dat sy nie bevoordoordeeld, onbevoeg of slegs lojaal aan die ANC is nie.

Die Hooggeregshof in Kaapstad sal die volgende twee dae die argumente in die aansoek aanhoor.

Die Vryheidsfront Plus sê hulle ondersteun Madonsela se oproep dat die Speaker tussenbeide moet tree oor die Nkandla-kwessie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.