Brief: Weste vir Afrikaners ‘n groter politieke vyand as KZN-ANC

Deel op

Ek het Dan Roodt se rubriek Van triomf tot ondergang Deel 1, soos baie ander mense, met belangstelling gelees. Sien uit na vele dele.

Hy noem die liberalisme van die media, in SA, in Swede, en ander Westerse lande ná WOII.

Dit het Portugal ook getref: vandaar die 1974 en 1975 magsvakume in Mosambiek en Angola.

Met die sigbare chaos in Mosambiek, kon die SA regering in 1975 in Angola ingryp. Dat hulle dit in die geheim moes doen, maar Castro met Operasie Carlotta nie, was teken van die “vreemde gety in die Weste” waarna Verwoerd vroeër verwys het.

Die ooreenkoms in 1975 met die CIA was om ‘n MPLA-regering in Luanda te verhoed.

Die Vorsterregering moes eerder nie op die VSA staatgemaak het nie – dit was tog ‘n dom fout om van die Senaat en Kongres steun te verwag. Inteendeel, die VSA het Castro-Kuba se lug- en seebrug na Luanda “ondersteun”!

Die oordeelsfout om op die VSA staat te maak pleks van self eerder en in groter mag Luanda te beset vir Unita, het SA baie duur te staan gekom: 1976-Soweto-onluste, die val van Rhodesie, en Frelimo sterker in Mosambiek. Ek twyfel of Verwoerd die VSA sou vertrou het, en sulke geweldige groot foute sou begaan het.

In 1987 en 1988 het PW en Pik weereens die Weste vertrou. Thatcher en Reagan was mos baie goeie Westerlinge.

In 1987 en 1988 neem PW die finale besluite om nie Kuba in Angola te vernietig nie, om uit Angola te onttrek, asook Suidwes oor te gee! Die res is geskiedenis. FW het geen geskiedenis gemaak nie! Dit was PW & Pik & Neil Barnard wat die Weste vertrou het, of na hulle raad geluister het, en so die MPLA-SWAPO-ANC-situasie veroorsaak het.

Ná WOII het die Weste die Verwoerdlose Afrikaners laat ondergaan. Die NP en die RSA was ‘n groot anachronisme. Verwoerd het dit geweet.

So groot was die post-WOII Westerse wêreld se NP-RSA anachronisme, dat Verwoerd vir seker iets “radikaals” of “revolusionêrs” moes beplan het vir die RSA en Suider-Afrika se binnelandse en buitelandse beleid, net voor die pro-Westerse moord op hom. Wat het Verwoerd beplan? ‘n Alliansie met tradisionele Afrikane, eerder as met “mede-Westerlinge” en Westerse Jode.

Viljoen reken Afrikaners soos Lang Hendrik vd Berg moes betrokke gewees het by die moord op Verwoerd, maar wie dit ook al was – hulle was in eie oë pro-Westerse blanke helde.

My punt is: alles wat Dan Roodt skryf, is waar. Dis waar, want dit moes so wees en gebeur ná WOII. Behalwe onder Verwoerd, wat nie pro-Westers was nie, omdat hy geweet het die Weste verkeer “onder vreemde gety”.

Verwoerd het gedurende die dertigerjare in Kaapstad se hawe teen verdere immigrante uit Litaue betoog. Ook NP Van Wyk Louw was ‘n ander man voor WOII.

Maar ná WOII was die Weste anders, en die een man wat daarvolgens opgetree het, was Verwoerd. Dit het Verwoerd genoodsaak om swart tradisionele leiers en volke te versterk, hulle te ontwikkel, te moderniseer en industrialiseer, en met hulle polities saam te werk.

Dit is vandag nog so. Die Weste is ‘n groter politieke vyand van Afrikaners in Suid-Afrika, as die KZN-ANC.

– Madelein Louw

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.