Dit was ’n voorreg om self sy pa se gedenkdiens te kon lei.
So sê Ds. Stanus Cloete, seun van die ontslape digter en bekende akademikus T.T. Cloete, wat vroeg verlede Woensdagoggend weens natuurlike oorsake in die MooiMed Hospitaal in Potchefstroom oorlede is.
Cloete het na afloop van die naweek se roudiens in die NG Kerk Vyfhoek in Potchefstroom gesê dat dit ’n eer was om ’n boodskap van troos aan sy familielede en vriende te kon bring.
Dié literêre reus wat sy hele lewe onbaatsugtig aan Afrikaans gewy het, was 91 jaar oud.
Intussen het PRAAG ontstoke briewe van KykNetkykers ontvang wat kla dat daar geen nuusdekking was oor die roudiens van een van ons taal se geliefde digters nie.
Die Afrikaanse nuus op die betaalkanaal het glo 10 minute aan Desmond Tutu gewy as hoofnuusitem sonder enige nuuswaardige inligting en daarna oorgeskuif na lokasiebeeste wat langs die pad wei iewers in die Oos-Kaap en glo ‘n gevaar inhou.