Gifkomplot teen Zuma oopgevlek

Deel op

Een van pres. Jacob Zuma se vroue, Nompumelelo Zuma, het glo erken dat sy bewus was van ‘n komplot om die president te vergiftig.

Die diagnose van vergiftiging is deur Russiese dokters bevestig.

Luidens City Press beweer bronne dat Zuma se vervreemde vrou, ook bekend as MaNtuli, eersdaags aangekla sal word van sameswering om moord te pleeg.

Haar beweerde medepligtiges sluit glo ‘n sakeman van KwaZulu-Natal in. Drie van die vier bronne bevestig ook dat ander plaaslike en oorsese individue dopgehou word.

Die Sunday Times het in Februarie berig dat MaNtuli uit die presidensiële huis in Nkandla geskop is omdat Zuma agterdogtig begin raak het oor haar betrokkenheid by ’n komplot om hom te vergiftig.

Wetstoepasser-bronne sê MaNtuli het ook ’n verklaring vir die ondersoekers afgelê waarin “ ’n paar baie interessante name” genoem word.

Hoewel twee onafhanklike bronne sê die NVG-base is ten volle bewus van die saak, wou Luvuyo Mfaku, NVG-woordvoerder nie kommentaar lewer nie.

Vermoedens oor ’n moontlike vergiftigingskomplot het in Junie verlede jaar begin toe Zuma ernstig siek geword het. MaNtuli is weens haar buite-egtelike verhouding met een van Zuma se lyfwagte, Phinda Thomo, verdink.

Hoewel die motief vir die komplot nog onbekend is, sê die bronne hulle glo MaNtuli is daarby ingetrek toe sy verlede jaar op ’n sakebesoek aan die VSA was.

Terwyl sy daar was, is sy deur die samesweerders baie geld belowe om haar man te vergiftig.

“Hulle het haar oorreed omdat sy direkte toegang tot die president gehad het. Geld het hande verwissel. Baie daarvan. Die ooreenkoms was om die president te vermoor,” het een bron aan City Press verklaar.

Die familie het meer agterdogtig geraak toe MaNtuli ‘n duur huis in die Pietermaritzburg-gebied gekoop het en haar vriende drie weke lank in ’n vyfsterhotel in Durban onthaal het.

MaNtuli vermy glo tans vliegtuie en word steeds deur BBP-beskerming opgepas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.