Motors: Mengelmoes-kardoes van padtoetse

Deel op

Praag Motors het ‘n hele paar motors bestuur en hier is n kort opsomming oor ‘n paar van ons gunstelinge.

Jeep Cherokee 2.4 Longitude

Die Jeep is een van daardie modelle wat so onder die radar bly, die vorigegeslag-Cherokee het eintlik die Jeep-naam hoog gehou, maar dit lyk vir ons of die huidige Cherokee maar effens sukkel om kers vas te hou met wat in die mark aan die gang is. Die motor is geensins ‘n swak produk nie, ook nie lelik of nie vaardig nie, maar om een of ander rede steek die Jeep erg af wanneer dit by sy mededinging kom. Die afwerking binne in die Jeep is van uitstaande gehalte en alles voel tipies Jeep, asof dit vir die veld gemaak is. In die Longitude-weergawe is die enjin die intreevlak 2.4-literpetrolviersilinderenjin.Hierdie enjin lewer 130Kw en 229 Nm. Anders as wat ‘n mens gewoond is in ‘n Jeep, is die Cherokee 2.4 Longitude slegs in voorwielaandrywing beskikbaar. Die motor is ‘n groot, swaar motor en na ons mening trek die 2.4 effens swaar. Tydens ons toetsrit het ons die Jeep vir ‘n naweek Bosveld toe geneem. Op die langpad ry die Chrokee verbasend gerieflik, baie meer soos ‘n gerieflike gesinsmotor as ‘n leefstylvoertuig. Wat ons wel opgemerk het van die Chrokee, is dat daar soos in die vorige weergawe bietjie min pakplek is en veral as ‘n mens die voertuig wil gebruik vir naweekuitstappies met bagasie. Ons het ‘n los, klipperige grondpaadjie met die Jeep aangepak en maar sukkel-sukkel bo uitgekom. Die grondvryhoogte is effens laag vir wat die Jeep belowe wanneer jy na hom kyk en die voorwielaandrywing het ook maar die losklippaadjie moeilik baasgeraak, veral met 4 mense en bagasie aanboord. Die prys van R500 990 strppl ook nie werklik met wat jy by ander vervaardigers kan koop nie. Chev se Captiva 2.4 L bied basies dieselfde akkomodasie teen R116 000 minder (R384 000), Mitsubishi se Outlander 2.4 bied 4-wielaandrywing teen R61 000 minder (R439 000) en Nissan se X-Trail kan in jou motorhuis staan teen R136 790 minder (R364 200) en bied ook 4-wielaandrywing en heelwat meer pakplek. Dalk is die goedkoper Jeep Patriot teen R109 000 billiker as die intreevlak-Cherokee: ‘n beter koop met vierwielaandrywing of dalk moet Jeep SA daaraan dink om die 2.4 Cherokee weergawe plaaslik te skrap?

 

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 3 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 2 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 3 uit 5
Op die pad 3 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 25 uit 40
Die Jeep Grand Cherokee
Die Jeep Grand Cherokee

Jeep Grand Cherokee CRD

Wat Jeep se premium 4×4 aanbetref, kan ons baie meer positiewe goed kwytraak. Ons was van dag een af ‘n groot aanhanger van die Grand Cherokee. Die voertuig voel luuks, groot en kan op plekke ry waar die meeste van sy mededingers dit nie sal waag nie. Die nuwe Grand Cherokee het ‘n gesofistikeerde gevoel met hoëgehaltestowwe aan die binnekant en tegnologie wat jy in baie duurder motors kry. Alhoewel ons voel die Jeep elke sent werd is, is die werklikheid van die saak dat R899 990 nie eintlik bekostigbaar is vir die gewone man op straat nie. So twee of drie jaar gelede was die diesel-Grand Cherokee werklik een van die winskopies in die segment, maar in die huidige ekonomiese klimaat en mark dink ons dit is net te veel geld vir enige ryding. Mededingers in die segment bied wel minder in veldvermoë en standaardtoerusting, maar hier is groot name ter sprake soos BMW se X5 xDrive 30d teen R26 000 duurder as die Jeep (R925 694), die nuwe Mercedes Benz GLE350d teen R70 000 duurder (R970 053) en die VW Touareg V6 TDi Escape wat R65 000 goedkoper as die Jeep is. Dit is dan ook slegs die Touareg wat miskien sal kan kers vashou by die veldgedeelte van die ry-ervaring. Wat die teerpadwerkverrigting betref, is die X5 en die nuwe GLE konings van die teer. Die Grand Cherokee, veral in die Overland-spesifikasie, tref ‘n baie goeie balans tussen werklike veldryvermoë en heel aanvaarbare teerpad- en sleepvermoë en sal dus in hierdie geselskap die goue medalje volkome verdien.

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 32 uit 40
Opel Adam Glam
Opel Adam Glam

Opel Adam 1.0T Glam

Met die nuwegeslag-kleinenjintjies wat byna in elke vervaardiger se modellys ‘n verskyning maak, is daar goeie keuses en minder goeie keuses. Die Opel Adam is ‘n baie goeie motor, die bougehalte is uitstekend, ruimte is goed vir wat die motor is en rygerief en straatopinie is uitstekend. Soos ons in ‘n vorige srywe berig het, is die intreevlak-Opel Adam 1.0 T Jam dalk die beste kopie in die reeks. Wat die Glam aanbetref, kos hy byna R24 000 (R235 300) meer as die Jam teen R212 000. Dit is steeds R10 400 meer as die Fiat 500 1.4 Lounge teen R224 900, net R29 700 minder as ‘n Audi A1-3-deur-1.0T S teen R265 000 en ‘n volle R90 600 meer as die VW Move Up teen R144 700! Al hierdie motors is klein 3-deurstadsmotors wat tussen die mikro- en die superminimotors diens doen. Al vier hierdie motors het ‘n retro-gevoel met ‘n baie moderne geurtjie. Die feit van die saak is: As jy ‘n Opel-aanhanger is en die ander drie glad nie na jou smaak is nie, dink ons die Opel Corsa 1.0T Cosmo wat slegs R1000 duurder as die Adam Glam is, maar baie meer spasie met 5 deure, groter begasieruim en meer standaardtoerusting bied, eerder die regte Opel vir jou is. Die Corsa het presies dieselfde 1.0-turbo-3-silinder-85-KW-enjin as die Adam Glam en kan self nog parkeer ook! Die Corsa is byna 28cm langer met 5 deure.

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 3 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 2 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 27 uit 40
Die Chevrolet Cruze
Die Chevrolet Cruze

Chevrolet Cruze 1,6 LS

GM Suid-Afrika het onlangs hul baie suksesvolle Cruze so bietjie opgekikker met nuwe voor- en agterligte en nuwe materiaal aan die binnekant. Die Cruze was nog altyd een van ons gunstelingsedanmotors en met die nuwe dagryligte en vars voorkoms kan die Cruze net vir meer vuurwerke sorg. Die 1.6 LS is die tweede goedkoopste Cruze in die reeks teen R247 200. Die motor bied hope ruimte vir 5 volwassenes met bagasie. Die nuwe sagte materiaal op die paneelbord en deure laat die Cruze meer prima voel as wat hy werklik is en moenie dink die 1.6-liter-4-silinder-enjin is lui of pap nie. Die 1.6 LS kos R15 500 minder as die 1.4T LS Cruze maar het slegs 17 KW minder en 45NM minder as die turbomodel. Na ons mening is die verskil op die pad so klein dat jy werklik die goedkoper 1.6-liter ‘n oorweging moet maak. Wat mededingers aanbetref, is daar ‘n hele klomp motors in die klas. Die Hyundai Elantra 1.6 Premium is R19 700 meer teen R266 900 maar voel kleiner aan die binnekant, veral die beenruimte en bagasieruim. Die Elantra is ook nie so goed toegerus soos die Cruze nie. Nog ‘n mededinger, die Kia Cerato 1.6 EX – basies dieselfde motor as die Elantra onder die bakwerk – kos R15 000 meer as die Cruze. Die Cerato is effens beter toegerus as die Cruze met reënsensors vir die voorruit ekstra, maar weereens is die spasie binne die Cerato minder as in die Cruze. Mazda se nuwe Mazda 3 is nog ‘n mededinger en teen R242 900 is die 1.6 Active-weergawe van die 3 R4300 goedkoper as die Cruze. Die Mazda is ook baie goed toegerus en dit is net togbeheer wat standaard in die Cruze is wat die Mazda kortkom. Die Mazda 3 is wel slegs 5 cm korter as die Cruze maar voel heelwat kleiner veral met die hoë agterste kantruite wat die insittendes omvou. Ruimte in die Mazda is dan ook die naaste aan dié van die Cruze. Die Cruze se suster, die Opel Astra 1.6 Essentia, gaan jou R17 000 meer uit die sak jaag as die Cruze en die motors is identies wat grootte en spesifikasie aanbetref; die Cruze het net ‘n aks groter bagasieruim. Toyota se Corolla 1.6 Esteem is R5 000 goedkoper as die Cruze teen R242 200 maar het heelwat minder standaardtoerusting as die Chev; die motor voel ook kleiner as die Cruze aan die binnekant. VW se Jetta 1.2 TSi Trendline gaan jou R15 300 meer as die Cruze uit die sak jaag, maar ons moet dit self sê, die Jetta voel groter en meer prima as enige iets in die segment. Wat ruimte aanbetref, bied die Jetta niks meer as die Cruze nie, selfs nie eers in die bagasieruim nie. Dit is bloot die primagevoel. Die 1.6-literenjin van die Cruze lewer 86KW en 155NM. Gewoonlik sou ons die nuwe tegnologie van die kleiner enjin verkies, maar in hierdie geval voel ons die Chevrolet Cruze 1.6 LS is die markleier in die 1.6-sedanmotorsegment. Rygerief, ruimte en bougehalte is alles uit die boonste rakke.

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 32 uit 40
Die Renault Clio GT-Line
Die Renault Clio GT-Line

Renault Clio GT line

Renault het die afgelope paar jaar groot vooruitgang gemaak met die tegnologie wat hulle in hul motor inbou. Veral enjintegnologie. Die Clio en die Sandero het die plaaslike motormark stormgeloop met hul 3-silinder-900cc-enjin wat briljante verrigting en ekonomie teweegbring. Die Clio GT-Line is nou ‘n Clio met ‘n sportiewe baadjie aan. Die motor lyk esteties baie beter as die reeds mooi standaard-Clio. Die nuwe allooivellings en koolstofkleurige kantspieëls, asook die koolstofkleurinsetsel aan die kant van die Clio GT-Line laat die Clio baie meer sportief vertoon as wat hy is. Ons dink Renault kon dalk die enjin met so 200 cc vergroot het om die outjie meer skop te gee. Die standaard-Clio lewer 66KW terwyl die Gt-Line 70 KW lewer; dit voel net nie of daar enige iets meer onder die enjinkap is nie. Die Clio is in werklikheid slegs ‘n gewone Clio met ‘n klomp kosmetiese verbeterings om die straatopinie te verbeter. Hy voel ook meer manlik as die gewone Clio wat na ons mening baie vroulike motor is. Mededingers sluit in die Ford Fiesta 1.0 T Titanium 92KW (R225 900) sowat R4000 goedkoper as die Clio GT-Line, Opel Corsa 1.0T Cosmo 85KW R236 300, Mazda 1.5 Dynamic 82KW R198 874, Peugeot se 208 1.6 Allure 88 KW R238 900, VW polo 1.2 TSi Comfortline 66 KW R225 900, Toyota Yaris 1.3 73 KW R198 500. Die meeste van die motors in die segment het meer krag, dieselfde spasie en verbruik as die Clio GT-Line. Na ons mening is hierdie Clio meer blaf as byt!

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 3 uit 5
Op die pad 3 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 29 uit 40
Peugeot 308 GT-line
Peugeot 308 GT-line

Peugeot 308 1.2 T GT-Line

Die blitsbukssegment van die mark is seker een van die mededingendste segmente wat daar is. Vir jare lank het die Golf GTi hier koning gekraai. Net onder die GTi is daar ook ‘n nuwe subblitsbukssegment en dit is nou presies hier waar die Peugeot 308 1.2T GT line diens doen. Die motor is seker die grootste verrassing van die jaar. Anders as vorige Peugeots is die bougehalte uitstaande, die los rathefboomgevoel wat soveel Peugeots gekenmerk het oor die jare, is weg. Die ratskakelings is vinnig en sekuur. Die instrumentepanele pas perfek en sonder enige geratel of gapings; alles lyk en voel net reg. Die GT line se klein stuurwiel laat die motor baie meer sportief voel as enige van sy mededingers. Ruimte is bogemiddeld beide in die binneruim en die bagasieruim. Ons enigste kritiek is dalk die klein raakskerm in die middelkonsole wat die radio, navigasie, ens. beheer. Die skerm kon werklik so ‘n aks groter gewees het. Die 308 GT line gaan jou R329 900 uit die sak jaag en mededingers soos die Ford Focus 1.0T Trend kan miskien met ruimte en enjintegnologie met die 308 saam praat, maar wat bougehalte, ruimte en verrigting aanbetref, troef die 308 die Ford maklik. Die Focus is wel byna R89 000 goedkoper as die 308, maar trek hulle langs mekaar en jy sal sien die 308 is in ‘n ander klas. Opel se Astra 1.4 Turbo is self ‘n baie goeie motor en mooi ook, maar weereens langs die 308 lyk die Astra byna asof hy ‘n ontrimpeling nodig het. Die Astra is R43000 goedkoper as die 308. Renault se Megane GT Line is seker die motor wat die naaste aan die 308 GT Line kom wat rygerief, krag en ruimte aanbetref; die voorkoms troef die 308 hierdie Megane ook maklik. Teen R289 900 is die Megane R40 000 goedkoper as die 308, maar Peugeot is soos VW besig om stadig maar seker die primamark te betree met hulle nuwegeslagprodukte. Die 308 GT Line is toegerus met ‘n 3-silinder- 1.2-liter- turbo-aangejaagde enjin wat 96 KW en 230 Nm se wringkrag lewer. Vergelyk dit met die Opel Astra se 1,4-turbomeul wat 103 KW en 200NM lewer, dan sien jy hoe goed hierdie enjin is. Die Focus lewer 92Kw uit ‘n 1 liter met 170 Nm se wringkrag en die Megane 97KW en 205 NM se wringkrag. VW se Golf 1.4 TSi Highling lewer 103 KW en 250NM en kos R336 300, slegs R6600 meer as die 308. Meer primamotors soos die Audi A3 1.4T S lewer 90 KW en 200 Nm teen R11 600 meer as die 308 en die BMW 118i sal jou teen R351 000 slegs R21 000 meer as die 308 kos en lewer 100KW en 220 NM. Die 308 GT Line voel op die pad en in die parkerarea meer soos ‘n motor wat tussen die Golf, A3 en 118i tuis hoort as enigsins naby die Astra, Megane en Ford.

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 35 uit 40

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.