Leon Lemmer: Wannie Carstens se onvoorbeeldige paternalisme

Deel op

Pleks van ‘n Afrikaanse taalraad in die ware sin van die woord te wees, is die Afrikaanse Taalraad (ATR) ‘n versoenings- en meertaligheidsraad. Versoening word dermate oordryf dat kulturele verskille, bv tussen wit en bruin mense, misken word. Daarenteen is daar by taal, en spesifiek by Afrikaans, in die ATR-geledere ‘n oorbewustheid van verskille, wat dikwels “variëteite” genoem word.

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) doen ‘n soortgelyke gestremdheid hom voor. Enersyds word diversiteit gepredik; dermate dat van die Diversiteit Stellenbosch gepraat word. Die eens Afrikaanse US is in ‘n meertalige inrigting getransformeer. Andersyds word kulturele verskille geïgnoreer. Alle Maties word in dieselfde kookpot gedwing, met blankes en Afrikaans wat amptelik gedoem is om van meerderheid- tot minderheidstatus afgegradeer te word. Transformasie kry voorkeur bo akademie.

Soos in die geval van die ATR word van die US iets anders gemaak as wat hy behoort te wees. In albei gevalle word die vonk hiervoor deur die mode-politiek van die oomblik verskaf. Nóg die ATR nóg die US is ongekwalifiseerd trots Afrikaans. Wie kon in die vorige eeu dink dat so ‘n bedenklike gesindheid jeens Afrikaans so vroeg in hierdie eeu onder Afrikaanssprekende blankes sou ontwikkel?

Vanweë sy sterk assosiasie met blankes/Afrikaners word Standaardafrikaans nie (openlik/onomwonde) deur die ATR gepropageer of bevorder nie. Pleks daarvan word die diversiteit van Afrikaans, oftewel die variëteite van Afrikaans, tot vervelens toe beklemtoon. Ook dat meertaligheid ‘n bate is, pleks van om te konsentreer op die uitbouing van ordentlike, agbare en so suiwer moontlike (bv nie-anglisistiese) Afrikaans. Die ATR versuim om pogings aan te wend om Afrikaans teen die verstikkende oorheersing van Engels te verskans.

Op die ATR-webwerf word die “breë Afrikaanse gemeenskap” aangespreek. Net soos met die woord “Standaardafrikaans” sal jy die woord “Afrikaner” glad nie daar teëkom nie. Daarom ontbreek verwysings na die Genootskap van Regte Afrikaners ook. Vir die ATR gaan dit om inklusiwiteit, oftewel “eenheid in diversiteit”. Die woord “bemagtiging”, met sy sterk ANC-inslag, kom telkens voor. Op 24 September gaan die ATR 90 jaar van Afrikaans vier. Heel voorspelbaar is die tema: “Die vele gesigte van Afrikaans.”

Dié siektetoestand by die US en ATR weerspieël die patologie van die nuwe Suid-Afrika. Die geykte betekenis van woorde word verwring of ander woorde word gebruik om die ware toedrag van sake te verdoesel. Rassediskriminasie word regstelling genoem. Verandering/nie-verbetering/opdondering word transformasie genoem. Ondergaande boere heet opkomende boere. Droogmaak/onvermoë word uitdagings genoem. Nie-meriete/korrupsie heet soms bemagtiging, ens.

Vanweë ‘n skewe agenda word dinge dikwels nie by die naam genoem nie. Byvoorbeeld, op 14 Augustus gaan daar ‘n byeenkoms by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl gehou word (ATR-webwerf, Nuus). Dit word nie, soos dit hoort, Afrikaansdag genoem nie. Nee, dit heet Taaldag, seker sodat niemand uitgesluit moet voel nie. Nico Koopman is een van die mense wat uitgenooi is om deel te neem. Hy het sy intreerede uitsluitlik in Engels gelewer en het hom as hoogleraar en dekaan onderskei met die spoed waarteen die US se Fakulteit Teologie (die ontaarde NGK-Kweekskool) verengels het. Dit is die soort manewales wat deesdae op die terrein van een van die Afrikaner se allerheiligste plekke, die Taalmonument, ontplooi word.

Wannie Carstens dien nie meer in die ATR-direksie nie. As eerste ATR-voorsitter en jare lange direksielid is sy gees egter aldaar steeds baie vaardig. Sy jongste artikel weerspieël daardie gees (ATR-webwerf 17 Julie en Die Burger, 23 Julie, p 15). Daarom voel ek verplig om in hierdie skrywe van Afrikaanssprekende blankes te praat en nie van Afrikaners nie, asook eerder van Afrikaanssprekendes as om die boosaardige term “Afrikaanses” te gebruik. Carstens skryf na aanleiding van ‘n artikel van Carryn-Ann Nel. Sy noem haarself ‘n “trotse, jong bruin vrou” (Beeld, 28 April, p 17). Op haar beurt het sy na aanleiding van ‘n artikel van Michael le Cordeur geskryf (Netwerk 24, 16 April). Hy beskou homself as ‘n ghoeroe van die “Afrikaanses”, bv van die mengeltaal Kaaps en die klopse. Carstens se artikel blyk ‘n laatgeboorte te wees. Ten spyte van die lang wordingsgeskiedenis sê Carstens niks of bitter min wat nuut is.

Le Cordeur het gal afgegaan oor die baie wit gesigte by die Ghoema-musiektoekennings. Hierdie geleentheid is op KykNet uitgesaai. Ghoema word met bruines geassosieer, daarom moet hulle, volgens Le Cordeur, die televisieskerm vul. Pleks daarvan was die uitsending, in sy loslit Afrikaans, ‘n “All White Show”. Wanneer dit by Afrikaans kom, opper hy egter geen beswaar as die ATR enige verwysing na blankes en veral Afrikaners soos die gif vermy nie. Volgens hom mag bruines nie soos “bywoners” van Afrikaans behandel word nie. Afrikaners mag egter maar in die ATR-konteks ongenoemdes, selfs onnoembares, wees en in die nuwe Suid-Afrika soos tweederangse burgers behandel word. Wanneer begin Le Cordeur om teen rassediskriminasie teen blankes te velde te trek?

Nel het in die Le Cordeur-idioom beswaar teen die baie wittes by ‘n Afrikaansbyeenkoms. Soos die lede van Open Stellenbosch wil sy “welkom voel”. Dit word algemeen aanvaar dat bruines glad nie so entoesiasties soos wittes oor Afrikaans is nie. Sy ontken dit egter en rek haar opvatting oor wat Afrikaans is tot by Nathan Trantraal se koeterwaals. Op daardie soort “Afrikaans” is sy danig trots. In die kommentaar onderaan sê die huidige voorsitster van die ATR, Anne-Marie Beukes, polities korrek, maar taalkundig inkorrek, haar steun aan Nel toe.

Le Cordeur en Nel se beswaardheid is ras-/kleurgebaseerd. Carstens, wat nie buite die raamwerk van politieke korrektheid kan dink nie, steun hulle; soos Beukes. Ooreenkomstig die mode-politiek en ATR-missie word soos volg kwantitatief gedink: Die meeste Afrikaanssprekendes is bruin, gevolglik is bruines die bepalende heilsfaktor vir Afrikaans. Die gehalte/kwaliteit van Afrikaans, soos dit ewewigtigheidshalwe hoort, mag nie in ag geneem word nie. Onderliggend aan hierdie gesindheid is die ANC se gelykheidsmanie; die een-mens-een-stem sindroom. Al die variëteite van Afrikaans word dus van gelyke waarde geag; ook dié (soos Kaaps) wat onnodig en oorvloedig met Engels besoedel is.

Veralgemenend kan gesê word dat bruines nie oor die heil, bv die gehalte en voortbestaan, van Afrikaans bekommerd is nie. Mense soos Le Cordeur, Henry Jeffreys en Danny Titus gee telkens die versekering dat vrese oor die toekoms van Afrikaans (heeltemal) ongegrond is. Hulle redenasie lui min of meer soos volg: Daar is so baie Afrikaanssprekende bruines en hulle word al hoe meer, dus is daar nie ‘n kat se kans dat Afrikaans sal uitsterf nie.

Nel verseg om te erken dat dit ‘n gebrek aan belangstelling is wat veroorsaak dat bruines versuim om (in groot getalle) by Afrikaansbyeenkomste op te daag, maar sy laat hierdie moontlikheid oop. Wie sou dan in plaas van die bruines namens hulle as spreekbuis optree? Die polities korrekte, paternalisties neigende Wannie Carstens. Terug tot by die Khoi-San en natuurlik die arme slawe kan bruines op sy steun reken.

Carstens begin sy artikel soos volg: “Nel is heeltemal reg. Te dikwels bestaan ‘n byeenkoms van Afrikaanssprekendes net uit wit mense. Ons sal die demografie van Afrikaans in ag moet neem.” Carstens se benadering is dus heeltemal in ooreenstemming met die demografie-manie van die ANC. Ooreenkomstig Carstens se wens probeer die ATR in die samestelling van sy direksie en in sy bedrywighede om hiper-demografie-inagnemend regstellend te wees. “So dikwels skitter die grootste groep moedertaalsprekers van Afrikaans deur hul afwesigheid by sulke geleenthede.” Moet die blankes hiervoor, by ope byeenkomste, die skuld aanvaar of is dit aan apatie by bruines te wyte? Dat Carstens voel hy moet namens die bruines hulle Afrikaanssaak stel, kan in sigself ‘n aanduiding wees van hierdie groep se flou belangstelling in die wel en wee van Afrikaans.

Soos Nel sê Carstens nie of hier sprake van apatie is nie. Hy kom eerder met oorbekende statistiek vorendag. Daarvolgens is “meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit … nie. Hiervan is meer as 50% van die totale Afrikaanse huistaalsprekers bruin.” Daarna kom Afrikaanse feeste onder sy soeklig: “As ons na Afrikaanse feeste in die land gaan, is die oorgrote meerderheid van die aanwesiges wit Afrikaanssprekendes. Dit is asof die bruin Afrikaanse gemeenskap met die Suidoosterfees in die Kaap en gedeeltelik met die KKNK gepaai [?] moet word … Maar wat van die ander feeste? Aardklop, Innibos, die Vrystaat Kunstefees,” ens.

Die Suidoosterfees word deur Media24 spesifiek met die oog op (oorwegend) bruin gehore aangebied. Daarteenoor word doelbewuste wit eensydigheid nie by die ander feeste aangetref of toegelaat nie. Polities korrek sal Carstens Media24 nie oor die pro-bruin ingesteldheid van die Suidoosterfees kritiseer nie. Hy kon wel vra waarom Media24 nie ewewigtigheidshalwe ook ‘n jaarlikse fees met die oog op (oorwegend) blanke gehore aanbied nie, bv ‘n Van Riebeeck-, Vryburger- of Boerefees. Op grond waarvan word bruines deur Media24 vir bevoordeling uitgesonder terwyl Naspers die afgelope honderd jaar sy voortbestaan en welvaart hoofsaaklik aan blankes te danke het?

Die punt is dat al die bestaande Afrikaanse feeste oopgestel vir bywoning deur enigeen is. Dit is ook bekend dat baie gedoen word om nie-wittes na hierdie feeste te lok. Dikwels word juis dit as ‘n vereiste vir enige owerheidsubsidiëring gestel. In hierdie era van vryheid mag nie-wittes nie teen hulle sin tot bywoning gedwing word nie. As die gehore deesdae steeds nie demografies verteenwoordigend blyk te wees nie, kan hierdie saak maar gerus met rus gelaat word. Voorheen was daar gedwonge rasseskeiding. Deesdae is daar gedwonge rasse-integrasie, asof dit iets is wat noodwendig goed is. Pleks daarvan behoort indiwidue en etniese groepe vryheid van assosiasie gegun te word. Daar is geen heil in die opdringing van een groep se kultuur aan ‘n ander nie. Alle blankes stel nie in die klopse belang nie. Alle bruines hou nie van boeremusiek nie. Gun elkeen die vryheid om sy kultuur uit te leef, mits dit nie die uitlewing van ander kulture aan bande lê nie.

Vervolgens gaan Carstens onbeskaamd in sy paternalistiese rat. Volgens die HAT is paternalisme “uitoefening van, kontrole oor of sorg vir onderdane [of bloot ander mense] op ‘n vaderlike manier.” Carstens skryf onrealisties/idealisties: “Die grootste groep van die bruin gemeenskap wil ook Afrikaans wees, wil hul lewe in Afrikaans leef, wil hul kinders in Afrikaans laat leer (op skool en op universiteit), wil in Afrikaans aanbid, wil in Afrikaans werk, wil in Afrikaans op verhoë en in teaters deelneem – wil dus volledig Afrikaans wees.” Daardie “grootste groep” waarna Carstens verwys, is hoofsaaklik die minder ontwikkelde bruines. Ontwikkelde bruines is geneig om (in die openbaar) buitengewoon dislojaal teenoor Afrikaans te wees. By diesulkes is daar geen begeerte om “volledig” Afrikaans te wees nie; veel eerder om hulle daarvan te distansieer. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK, wesenlik die ontaarde NG Sendingkerk) openbaar dikwels ‘n voorliefde vir Engels, selfs in situasies, soos gemeentes (bv in kerkdienste), waar dit onvanpas/disfunksioneel is. As die NG Kerk en die VGK saamsmelt sou sinodesittings en ander kerklike byeenkomste uitsluitlik in Afrikaans dikwels nie meer aanvaarbaar wees nie. Dit is vir my onbegryplik dat dít nooit as ‘n argument teen kerkvereniging gebruik word nie; seker maar omdat dit hoog in die mode is om eerder eenheid en eendersheid as “verskeurdheid”/verskeidenheid voor te staan.

“Vir die bruin gemeenskap is Afrikaans ook van belang, die behoud van Afrikaans as skooltaal en as universiteitsonderrigtaal is net so belangrik vir bruin Afrikaanssprekendes as wat dit vir wit Afrikaanssprekendes is.” Afrikaans as onderrigtaal is vir al hoe meer blanke Afrikaanssprekendes nie van deurslaggewende belang nie. By ontwikkelde bruines is dit so in nog groter mate. Dink aan die voorval enkele jare lede toe Afrikaanssprekende bruin ouers die Laerskool Mikro in Kuilsrivier wou verplig om, anders as in die res van die skool, spesiaal onderrig in Engels aan hulle kinders te verskaf. Dink aan die geval Russel Botman wat aanvanklik beweer het dat hy onderrig in Afrikaans aan die US uitbou deur bruin studente met bv studiebeurse te bevoordeel, net om later te erken dat bruin studente, soos sy eie kinders, onderrig in Engels verkies.

“Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het volledig Engels geword. Is ‘n omgekeerde proses nie hier nodig nie – dat die UWK weer primêr vir Afrikaanssprekendes voorsiening maak?” Let op hoe tentatief (eintlik slapgat) Carstens hom oor hierdie skandalige situasie uitlaat. Hy vra eerder ‘n vraag as om openlik en sterk op terugverandering by die UWK aan te dring. Dit is ‘n hoogleraar in Afrikaans, Jakes Gerwel, iemand wat uittartingshalwe sy intreerede in Engels gelewer het, wat as rektor die oorwegend Afrikaanse UWK in ‘n eentalig Engels inrigting getransformeer het. Hy het dit gedoen omdat ANC-politiek by hom baie swaarder as die heil van Afrikaans geweeg het. Wat die UWK sedertdien versuim om vir Afrikaanssprekende bruines te doen, word deesdae van die US verwag. Dit is waarom US-raadslid Koos Bekker verkeerdelik beweer dat die US ‘n spesiale historiese verpligting teenoor bruin studente het, terwyl dit in werklikheid ‘n opsetlik versaakte plig van die UWK is. Wat Carstens nie noem nie en (ontwikkelde) bruines se algemene belangeloosheid by Afrikaans bevestig, is dat daar nog geen daadwerklike protes uit bruin geledere teen die algehele verengelsing van die UWK opgeklink het nie. Die UWK was sedert 1960 drie dekades lank die hoofsentrum en voedingsbron van bruin kultuur. Verswarting en verengelsing het hierdie rol sedertdien grootliks vernietig.

Carstens skaar hom in so ‘n mate by die bruines dat hy Afrikaanssprekende blankes tekortdoen: “As daar gepraat word oor [studie]beurse vir Afrikaans of vir Afrikaanssprekende studente, word meestal net wit studente in ag geneem.” Dit is ‘n hoogs twyfelagtige, eintlik laakbare, stelling. As US-raadslid behoort hy te weet dat daardie universiteit talle en progressief al hoe meer studiebeurse eksklusief vir nie-wit studente beskikbaar stel. Waar studiebeurse eksklusief vir blankes beskikbaar was, het die US enersyds geweier om enigiets daarmee te make te hê, of andersyds hom met sy beswaardheid selfs tot die hof gewend. Kortom, studiebeurse eksklusief vir nie-wittes is toenemend beskikbaar, maar sodra daar sprake van studiebeurse eksklusief vir wittes is, word die US se inklusiwiteitstrewe vooropgestel.

Sonder om met voorstelle voor ‘n dag te kom, vra Carstens: “Wat kan ons doen om seker te maak die Afrikaanse gemeenskap word altyd [!] in sy volle verskeidenheid verteenwoordig daar waar Afrikaanssprekendes bymekaarkom? … Daar is werk wat op ons [!] wag” Carstens dink seker by uitstek aan Afrikaansbyeenkomste. Maar wat van ander aksies, soos wanneer teen plaasmoorde betoog word, of wanneer vrywilligers hulp verleen, bv om pikkewyne van oliebesmetting te bevry? Dan skitter nie-wittes in hulle afwesigheid. Carstens verwag van blankes om die (relatiewe) apatie/onbetrokkendheid/onbesorgdheid van bruines oor Afrikaans te verminder, op die gevaar af dat Afrikaanssprekende blankes van paternalisme beskuldig word. Deelname aan Afrikaansbedrywighede is oop vir enigeen. In baie gevalle, soos by Carstens en sy geesgenote, word agteroor geleun om bruines nie net toe te laat nie, maar hulle (meer as) welkom te laat voel. Tog is die resultate teleurstellend. Aan die blanke kant moet daar myns insiens êrens ‘n genoeg-is-genoeg wees.

Carstens gaan uit van onhoudbare aannames. ‘n Gemeenskaplike taal waarborg nie kulturele eendersheid nie. Dink maar aan die groot kulturele verskillende wat daar tussen inwoners bestaan waar die koloniale taal, bv Engels of Frans, die amptelike of algemene gebruikstaal is. Sommige wittes en sommige bruines het (in ‘n mate) Afrikaans as hulle gemeenskaplike taal en Carstens en die ATR erken dat daar groepsgewys verskille in Afrikaans aangetref word. Daardie verskille is egter nie net ooglopende voorkomsverskille, soos woordeskat en uitspraak, nie maar ook diepgaande gesindheidsverskille. Soveel te meer is daar tussen wittes en bruines kulturele verskille. Daarmee word nie ontken dat daar taal- en kultuurgewys ook oorvleueling, dus gemeenskaplike terrein, is nie. Maar om, soos Carstens in die vorige paragraaf, as ideaal te koester dat wittes en bruines by Afrikaansbyeenkomste “altyd” demografie-verteenwoordigend saamgegooi moet word, is om ernstig te dwaal. Vanweë taal- en kultuurverskille mag en behoort daar ruimte vir Afrikaansgeleenthede te wees waar die juk van demografie afgeskud en enigeen vryelik toegelaat word om deel te neem of weg te bly.

Teen die einde van sy artikel blyk dit dat Carstens ‘n Praag-leser is. Hy beweer dat iemand hom op die Praag-webwerf gekomplimenteer het met die stelling dat hy die “bruin stem in Afrikaans ingebring het.” Dit bevestig sekerlik die groot mate van onbesorgdheid/onverskilligheid wat daar by bruines oor Afrikaans bestaan; dat Carstens gevolglik voel dat hy namens bruines aan die blankes moet preek; dus die spreekwoordelike leviete moet voorlees. Van preek gepraat: Hoe meer Carstens met verkieslik ‘n ope gemoed op die Praag-webwerf lees, des te beter word die kanse dat hy tot inkeer sal kom; dus ‘n regte Afrikaner kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.