Vrae oor miljarde by PRASA

Deel op

Minstens R4 miljard se besteding by PRASA waaroor daar nou ernstige vrae is, sluit ook ‘n bedrag van R17 miljoen in wat blykbaar uit PRASA se koffers “verdwyn” het.

‘n Voorlopige opsomming van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se geldsake wys dat die ouditeur-generaal (OG) in die 2014-’15-boekjaar reeds die meer as R17 miljoen wat betaal is vir die “huur” van ’n stuk grond sonder die nodige huurkontrak, opgemerk het.

Dit blyk uit die opsomming, waarvan Beeld ’n afskrif het, dat die OG bedenkinge het oor besteding van sowat R3,9 miljard. Dit sluit onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes in.

Lucky Montana, voormalige uitvoerende groephoof van PRASA, het nietemin Donderdag in ’n verklaring gesê sy beleid was “geen korrupsie nie met my aan die stuur”.

’n Stuk grond naby Nigel is vir die oprigting van ‘n passasierstreinvervaardigingsaanleg opsy gesit. Dit is deel van ’n R51 miljard-kontrak wat PRASA aan die Gibela-konsortium van die Franse vervaardiger Alstom toegeken het.

Die Ekurhuleni-metroraad het egter bevestig hy het nog nie ’n sent huurgeld van PRASA gekry nie.

Luidens ’n afskrif van ’n dokument wat die metro se eiendomsafdeling opgestel het, moet Gibela ná die eerste twee jaar R78 900 per maand (sowat ­R950 000 per jaar) daarvoor ­betaal.

Dit is dus nie duidelik hoekom PRASA reeds R17 miljoen vir die grond betaal het nie of waarheen die geld is nie.

Die OG-opsomming wys ook PRASA het nie ’n beheerliggaam aangestel het oor die tenderproses waarin Gibela die R51 miljard-kontrak gekry het nie, al vereis die tesourie dit.

In 2013, kort nadat Gibela dié kontrak ontvang het, het Montana in media-onderhoude gesê ’n ouditeursfirma wat deur PRASA aangestel is, het bevind die tenderproses het glo sonder korrupsie geskied.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.