Obama sluit Afrika-besoek af met vermanings en kritiek

Deel op

Pres. Barack Obama het Dinsdag weer ‘n woorde-aanval geloods teen Burundi se president.

Die toespraak het aan die einde van Obama se besoek aan Kenia, die geboorteland van sy pa, en Ethiopië gekom, het AFP berig.

Obama is die eerste Amerikaanse president in die geskiedenis wat die Afrika-unie (AU) kom toespreek het.

Albei lande is sleutel veiligheidsbondgenote van Amerika in die stryd teen terreur, maar Obama het sowel Kenia as Ethiopië oor kwessies soos demokrasie, menseregte en korrupsie uitgedaag.

“Afrika se demokratiese vooruitgang word in gevaar gestel deur leiers wat weier om uit te tree nadat hul termyne ten einde geloop het,” het Obama onder luide applous van sekere dele van die gehoor gesê.

“Niemand behoort lewenslank president te wees nie,” het hy gesê en verduidelik dat hy daarna uitsien om oor 18 maande die tuig neer te lê.

“Ek geniet my werk, maar ingevolge ons grondwet kan ek myself nie weer verkiesbaar stel nie. Ek dink dat ek ’n redelike goeie president is. Indien ek weer sou staan vir president kan ek wen, maar ek sal nie.”

“Ek verstaan nie hoekom mense so lank wil aanbly nie, veral as hulle genoeg geld het,” het hy gesê. Hy het ook gesê dat niks Afrika se ekonomiese potensiaal vinniger sou ontsluit as om “die kanker van korrupsie” uit te roei nie.

Obama het Burundi se pres. Pierre Nkurunziza, wie se geslaagde aanspraak op ’n derde termyn weke se onluste in die land ontketen het, uitgesonder as ’n voorbeeld van die gevare om in ’n pos aan te bly en die risiko vir “onstabiliteit en konflik” te loop.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.