‘n Ondersoekspan van Maleisië is na die ooskus van Afrika gestuur om vas te stel of wrakstukke wat naby die eiland Reunion gevind is moontlik dié van die vermiste Vlug MH370 is.
Maleisië het Woensdag gesê die span van ondersoekbeamptes sal help bepaal of die wrakstukke wel van die vliegtuig is wat verlede jaar oor die Indiese Oseaan verdwyn het.
Amptenare sê dit is waarskynlik die wrakstukke wat gevind is, maar verdere ondersoek is nodig.
Geen spoor kon nog gekry word van die Boeing 777 wat in Maart verlede jaar met 239 passasiers aan boord op ‘n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn het nie. Die meeste passasiers was Chinese burgers.
Seestrome kon wrakstukke ver van die plek waar die vliegtuig neergestort het meegesleur het. Die ontdekking kan die grootste deurbraak wees in die tot dusver vrugtelose soektog na die vliegtuig.
Die Maleisiese minister van vervoer Liow Tiong Lai het met verslaggewers gepraat tydens ‘n besoek aan die Verenigde Nasies in New York.
‘n Stuk romp wat twee meter lank is, het Woensdag glo uitgespoel naby Saint-Andre, aan die oostekant van die eiland.
Die ontdekking kom ‘n dag nadat Rusland ‘n VN-resolusie vir ‘n internasionale tribunaal geveto het om die Maleisiese vliegtuig MH17 wat oor Oos-Oekraïne in 2014 afgeskiet is, te ondersoek.
Witali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur by die VN, het die resolusie geblok. Rusland is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad met vetoreg.
Elf van die 15 lede van die raad het ten gunste van die resolusie gestem, wat opgestel is deur Australië, België, Maleisië, Nederland en die Oekraïne.
China, Venezuela en Angola het buite stemming gebly.
Rusland sê die gebeure rondom MH17 word verpolitiseer en die tribunaal sal nie reg laat geskied aan die slagoffers of die waarheid nie.
Die vliegramp het gelei daartoe dat sanksies teen Rusland ingestel is omdat die VSA voortydig besluit het Rusland moet verantwoordelik gehou word.