Eise teen SAPD kos belastingbetalers R860 miljoen

Deel op

Belastingbetalers moes die afgelope ses jaar al meer as R860 miljoen opdok vir siviele eise teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

As die skikkingsooreenkomste wat die SAPD sedert 2011 aangegaan het ook bygereken word, styg die bedrag tot meer as R1,04 miljard.

In 2009 is slegs sowat R80 miljoen vir sulke eise uitbetaal, het Netwerk24 berig.

Gareth Newham, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie, het aan Netwerk24 gesê die stygende eisuitbetalings toon dat siviele eise gewilder is by die publiek eerder as om by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te gaan kla waar ondersoeke lank kan sloer.

Die SAPD se jaarlikse gebeurlikheidsbegroting vir siviele eise wat moontlik nog in die toekoms ingestel kan word, het in die afgelope boekjaar meer as R312 miljard beloop.

Die SAPD se jaarverslae en parlementêre antwoorde van Nathi Nhleko, minister van polisie, wys voorts die polisie het in die 2009-’10-boekjaar regskoste betaal van sowat R89 miljoen.

Teen Maart vanjaar was die bedrag reeds ‘n yslike R278 miljoen.

Die jaarverslae wys ook die meeste van die eise wat teen die polisie ingestel is, was weens algemene polisie-optrede wat byvoorbeeld gedrag tydens inhegtenisnemings insluit, skietvoorvalle en motorongelukke.

In 2012 is berig ’n interne SAPD-oudit het gewys meer as 27 000 polisielede uit nagenoeg 157 000 wat toetse afgelê het om vuurwapens te hanteer, het gedruip.

In die 2010-’11-boekjaar toe die rybewysvereiste vir nuwe rekrute geskrap is, was dié eisuitbetalings nagenoeg R10 miljoen. Dié vereiste is intussen heringestel weens die groot eisuitbetalings agv motorongelukke.

Die SAPD se jaarverslag vir die 2011-’12-boekjaar het gewys van die grootste eisuitbetalings (R12,7 miljoen) was weens skietvoorvalle.

Daar is vandag 1 448 veroordeelde misdadigers wat in die polisiemag dien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.