Die voormalige Vrystaatse LUR van Sport, Kuns en Kultuur, Dan Kgothule, dagvaar die Vrystaatse koerant, The Weekly, vir R250 000 vir naamskending.
Dit nadat dié weeklikse koerant tydens Kgothule se termyn, in ‘n artikel in Augustus 2010, berig het dat sy senior personeel oor sy gedrag kla; ook dat Macufe onder sy leierskap geen wins toon nie en dat Pacofs in chaos gedompel is.
Premier Ace Magashule het Kgothule verlede jaar die trekpas gegee.
Sy regsverteenwoordiger, Hennie Stander, sê Kgothule wil met die hofsaak sy eer en waardigheid herwin.
Die saak dien voor regter Albert Kruger in die hooggeregshof in Bloemfontein en is vir drie dae op die rol geplaas.
Kgothule het vanoggend aan die hof gesê dat hy tans werkloos is terwyl hy sy studies voortsit by Kovsies en die SUT.