T.T. Cloete is dood

Deel op

Die Afrikaanse digter T.T. Cloete het vanoggend in die Mooimed-hospitaal op Potchefstroom gesterf. Hy was een van die bekendste moderne Afrikaanse digters wat veral in woordspel en kriptiese beeldspraak uitgemunt het. Theunis Theodorus Cloete is op Republiekdag, 31 Mei, in 1924 gebore en was dus 91 jaar oud ten tye van sy oorlye.

Hoewel hy as dosent en literêre teoretikus aan die Universiteit van Potchefstroom aktief is, debuteer Cloete eers op die rype ouderdom van 56 met sy bundel Angelliera, waarvoor hy sowel die Ingrid Jonker-prys as die WA Hofmeyr-prys vir Poësie ontvang. In ‘n onderhoud met Die Burger op 12 Februarie 2011 het Cloete verklaar:

“Ek kom uit ’n ras-egte boeregemeenskap. Maar my pa was as boer baie belese en het altyd vir ons gesê ons bly naby die engele.”

Cloete promoveer in 1953 onder ‘n ander groot, miskien die grootste, Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw in Amsterdam met die proefskrif: “Trekkerswee en Joernaal van Jorik”.

Hy was 58 jaar lank getroud met Anna van Zyl, wat op 2 Mei 2007 aan nierkanker oorlede is. Gedurende die laaste vier jaar van Anna se lewe het hy haar self versorg. Volgens sy seun Theo, “het hy nooit haar bed verlaat nie. Hy het homself daar ingerig en langs haar bed gesit en werk.” In ‘n ander onderhoud in Die Burger in 2009 het Cloete oor sy vrou gesê:

“Anna was die nie-skrywende digter in my. Sy het my bewus gemaak van so baie dinge. Goed wat spontaan aanleiding gegee het tot gedigte. As jy die verhouding tussen Alice en Edward Elgar snap, het jy dalk iets van die verhouding tussen my en Anna.”

In J.C. Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur word Cloete redelik afgeskeep, waarskynlik omdat hy en Kannemeyer in 1980 in ‘n polemiek betrokke was oor die oorspronklikheid, aldan nie, van Kannemeyer se uitsprake oor Afrikaanse literêre werke. Nietemin, gegewe die groot aantal pryse wat Cloete vir sy œuvre ontvang het, word hy as een van die groot Afrikaanse digters van die twintigste eeu erken.

Volgens Heilna du Plooy het na Cloete se akademiese werk verwys en “hoedat hy geskool is in ’n wye humanitêre insig in die geestesaktiwiteit van die mens”. CLoete het ook vertalings van Frans na Afrikaans gedoen.

Artikels oor T.T. Cloete:

Afrikaanse Wikipedia

TT Cloete (1924–2015), biografie deur Erika Terblanche

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.