Bekende Windhoeker in plaasaanval doodgeskiet

Deel op

Die 76-jarige mnr. Gerald Leitner is Vrydag op sy plaas in die Hochfeld-omgewing sowat 76 km buite Okahandja deur vyf verdagtes aangeval en doodgeskiet.

Die Republikein berig dat niemand nog in verband met sy dood in hegtenis geneem nie.

Volgens die skakelbeampte van die Namibiese polisie, insp. Pendukeni Haikali, het rowers Woensdag verlede week probeer om by Leitner in te breek. Hy het op hulle losgebrand en die verdagtes het in ‘n voertuig op die vlug geslaan.

Leitner het dit by die polisie aangemeld wat ‘n ondersoek na die voorval gedoen het. Volgens Haikali het Leitner egter geen klag gelê nie en is dié saak afgehandel.

Vrydag omstreeks 19:00 het vyf mans na die plaas teruggekeer en vyf keer met ‘n .45-pistool op Leitner losgebrand.

Een van die koeëls het hom deur die hart getref en hy is op die toneel dood. Die verdagtes het ‘n vuurwapen en kontant gesteel, voordat hulle in hul eie voertuig gevlug het.

Leitner het ‘n ruk gelede sy juwelierswinkel in Windhoek verkoop en plaas toe getrek om voltyds te boer. Sy dogter, me. Sabine Gamma, was gister te geskok om enige kommentaar oor haar pa se dood te lewer.

Intussen is ‘n grondkrisis in Namibië afgeweer nadat vergadering tussen ’n regeringsafvaardiging en nege lede van die Regstellende Herposisionering-beweging (AR) wat vroeër die trekpas uit Swapo gekry het.

Die vergadering het op versoek van die president Hage Geingob plaasgevind.

Volgens ’n gesamentlike verklaring wat ná afloop van die onderhandelinge uitgereik is, sal ’n reuse- nasionale projek onderneem word wat op die toekenning van stedelike en dorpsgrond gemik is. Dit is in pas met die “oorlog teen armoede” wat Geingob in sy inhuldigingsrede aangekondig het.

Die regering sal voorts begin om 200 000 erwe landswyd te diens. Windhoek, Walvisbaai en O­shakati is vir ’n aanvanklike loodsprojek geïdentifiseer. Die tydperk tussen 29 Julie en 5 Augustus sal aan die skoonmaak van geïdentifiseerde stedelike en dorpsgrond gewy word. Hierdie geïdentifiseerde grond sal gediens word en later aan begunstigdes toegeken word.

Ingevolge die projek om stedelike en dorpsgrond op ’n grootskaalse grondslag te diens, sal Namibiërs gevra word om op ’n vrywilliger grondslag deel te neem in die diens van geïdentifiseerde grond.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.