Voorleggings oor grondonteiening bevraagteken grondwetlikheid

Deel op

President Jacob Zuma se beloofde onteieningswet wat in Februarie vanjaar in sy staatsrede aangekondig is, word beoog om die beginsel van “gewillige koper, gewillige verkoper” te laat vaar.

Belanghebbendes sal van Dinsdag tot Donderdag voorleggings oor die omstrede onteieningswetsontwerp doen.

“Ons is daartoe verbind dat die grond teruggegee sal word aan ons mense en die ANC doen ’n beroep op ons regering om die nodige wetgewing spoedig in te stel – vanjaar nog – om te verseker dat dit gebeur,” het Zuma gesê.

“Onteiening sál ingevolge die Grondwet geskied en ’n wet sál vanjaar aanvaar word.”

Dit strook egter nie met die redes wat in die wetsontwerp se memorandum genoem word nie.

Die memorandum sê die wetsontwerp se doel is om die Wet op Onteiening van 1975 in pas met die Grondwet te bring om prosesse en prosedures vir onteiening deur staatsorgane beter te kan bestuur.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) sal Dinsdagoggend ‘n voorlegging aan die komitee doen. Dr. Anthea Jeffery, beleidshoof, het die wetsontwerp vroeër as ongrondwetlik en drakonies beskryf.

Die regering het in 2008 en 2013 soortgelyke wetsontwerpe voorgestel, maar dit het misluk weens vrae oor die grondwetlikheid daarvan.

Netwerk24 berig dat wetsontwerp onder meer die volgende insluit:

■ Die minister van openbare werke het die “algemene mag om te onteien” ingevolge sy mandaat, wat die verskaffing en bestuur van akkommodasie, grond en infrastruktuur vir die behoeftes van die staat insluit;

■ As ’n eiendom vereis word vir onteiening, moet die staat ’n kennisgewing daaroor aan die eienaar bedien en dit in die Staatskoerant en twee ander plaaslike koerante publiseer;

■ Die eienaar moet dan binne 30 dae skriftelik sy besware indien en aandui wat hy as “regverdige en billike” vergoeding aanvaar;

■ Die staat kan binne 20 dae daarna besluit of hy dit aanvaar. As dit verwerp word, kan die staat sy eie bedrag voorstel; en

■ As geen ooreenkoms oor vergoeding binne 40 dae bereik kan word nie, moet die staat besluit of hy sal onteien, maar die eienaar daarvan inlig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.