Nog Nkandla-modder

Deel op

‘n Groep joernaliste het weer president Jacob Zuma se woning op Nkandla besoek.

Hulle is selfs getrakteer op ‘n demonstrasie van swembadwater wat vuur kan blus, maar die jongste besoek kon blykbaar steeds nie politieke vure blus nie.

Die voorsitter van die Parlement se Adhockomitee oor Nkandla, Cedric Frolick, sê daar is nog geen besluit geneem om die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, te vra om voor die komitee te verskyn nie.

Die DA dring steeds daarop aan dat president Jacob Zuma ook voor die Parlementêre Adhoc-komitee moet verskyn om sy weergawe oor die veiligheidsopgraderings by sy privaatwoning op Nkandla te gee.

Die party sê die pryse op die veiligheidsopgraderings is doelbewus gelaai om ander projekte in die President se privaatwoning te subsidieer. Dieselfde argitek was by altwee projekte betrokke.

Madonsela het in haar verslag oor Nkandla regstellende stappe aanbeveel. Een van die aanbevelings is dat die President ‘n gedeelte van die geld moet terugbetaal wat bestee is aan opgraderings wat nie met veiligheid verband hou nie.

Frolick sê partye in die komitee is verdeeld oor Madonsela se moontlike verskyning voor die komitee.

Verlede week het joernaliste beperkte toegang gehad toe die parlementêre ad hoc komitee die president se privaatwoning besoek het. Die Nasionale Redakteursforum het egter oor die beperkings gekla.

Joernaliste sal die regering se geriewe binne die perseel besoek wat in verskeie verslae oor die veiligheidsopgraderings gemeld word.

Intussen berig die SABC dat Madonsela bereid is om voor die Nkandla-komitee te verskyn, indien sy gevra word om dit te doen. Madonsela se woordvoerder, Kgalalelo Masibi, het bevestig dat sy geneë is om te verskyn.

Madonsela het gedreig om die hof te nader indien sy nie toegelaat word nie om te verskyn om haarself te verdedig teen ANC-bewerings dat sy die land mislei het oor die bouwerk.

Die komitee is aangestel om die minister van polisie, Nathi Nhleko se verslag oor sekuriteitsopgraderings by Nkandla se ondersoek. Madonsela se ondersoek na Nkandla het aanbeveel dat Zuma moet betaal vir die verbeterings wat nie met veiligheid verband hou nie.

Lede van die komitee het Madonsela se verslag verlede week gekritiseer en opposisiepartye meen sy het ‘n reg om op die kritiek te reageer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.