Namibiese kragvoorsiener dank bestuurslede af

Deel op

NamPower se besturende direkteur en twee ander senior bestuurders is summier deur die maat­skappy se sekretariaat in kennis gestel dat hulle hangende ’n dissiplinêre ondersoek, geskors word.

Die bestuurende direkteur wat aangesê is om sy kantoor te ontruim sodat die slotte verander kan word, kon ook nie telefonies bereik word nie.

Die voorsitter van die direksie, wou nie die kwessie bespreek nie en het ’n navraag van die Republikein oor die skorsings met ’n ferm “geen kommentaar” kortgeknip.

Volgens ’n ingeligte bron hou die skorsings verband met ’n betaling van nagenoeg N$30 miljoen aan KPMG vir ’n ondersoek na die kommersiële lewensvatbaarheid van die nasio­nale kragvoorsiener se beplande 250 MW-kragopwekkingsprojek. Die aanvanklike koste vir dié tender aan KPMG was sowat N$2,4 miljoen.

Die tender ten bedrae van N$4 miljard vir dié 250 MW-aanleg is in Desember verlede jaar aan Xaris Energy toegeken.

Republikein verneem dat hoewel die forensie ouditverslag wat deur Saunderson and Company na die KPMG-tender ongerymdhede uitwys, dit te make het met verkeerde prosedures wat gevolg is, eerder as kwaadwillige optrede deur die geskorstes.

“Die skorsings is niks anders as ’n ­heksejag nie. KPMG se ondersoek het al oorgegaan in die tweede fase wat meer met verkryging te make gehad het.

“Daarom is die konsultante heelwat meer as die aanvanklike N$2,4 miljoen betaal, wat in elk geval net ’n voorlopige bedrag vir fase een was,” sê ’n ingeligte bron.

Intussen het mnr. Calle Schlettwein, minister van finansies, by navraag gesê aanbevelings oor wat Namibië in die kort termyn moet doen om te verseker dat die tekort aan elektrisiteit in die land binne die volgende 12 tot 18 maande aangevul kan word, sal op 15 Augustus aan die regering gemaak word.

Die Namibiese regering het intussen opdrag gegee dat kundiges aangestel word vir ’n onafhanklike evaluering van NamPower se beplande projekte.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.