DA wil Russiese kernooreenkoms teenstaan

Deel op

Die Demokratiese Alliansie is van plan om die kernooreenkoms teen te staan. Die party het Sondag op ‘n nuuskonfrensie na die federale vergadering in Durban, onderneem om op hernubare energie te fokus.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê Suid-Afrika moet begin om in alternatiewe energie te belê.

Onafhanklike kragvoorsiening sal egter die noodsaaklikheid van die Russiese triljoenrand-kernkragooreenkoms knou.

Kenners meen die Russiese kernooreenkoms is bloot gemik op ANC-kaderverryking op ’n skaal wat die wapenskandaal en Nkandla na kinderspeletjies sal laat lyk.

Die departement van Energie weier steeds om te reageer oor vroeëre berigte dat president Jacob Zuma die beheer oorgeneem het van ‘n kernooreenkoms van een-triljoen rand met Rusland.

Die ooreenkoms is regstreeks met Rusland se president Vladimir Putin beding en die minister van Energie, Tina Joemat-Pettersson, het glo opdrag gekry van die president om dit te onderteken.

Volgens die DA sal kompetisie vir Eskom die ANC se kaderverrykingskemas, wat afhanklik is van die yslike bouprojekte by Medupi- en Kusile-kragsentrales, in die wiele ry.

Mededinging van alternatiewe kragvoorsieners sal die ANC se frontmaatskappy, Chancellor House, se beleggings namens Eskom ook ondermyn.

Chancellor House kon reeds honderde miljoene van belastingbetalers se geld vir die ANC afskep deur sy aandeelhouding in Hitachi, kontrakhouer vir die vervaardiging van stoomketels vir die mega-kragopwekkers.

President Zuma het op 12 Februarie in sy staatsrede ’n 9-punt-plan aangekondig tot 2019, wanneer sy tweede termyn eindig, wat as handleiding vir sy administrasie sal dien wat onder meer sy verbintenis tot die Russiese kernkontrak insluit.

Eskom se monopolie sal behou word weens die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumbronne wat ter tafel gelê is.

Dié wetsontwerp sal gas-eksplorasiepogings smoor en sodoende die noodsaak vir sluiting van die Russiese kernooreenkoms versterk.

Volgens die DA is die uitstaande kenmerk van 9-punt-plan die groot aantal beslissende take wat aan “maatskappye in staatsbesit” toegeken sal word.

Onder die dekmantel van ’n “ontwikkelingstaat” en “energiebehoeftes” word geleenthede vir kaderverryking dus vermenigvuldig.

Die leier van die EFF, Julius Malema het die ANC intussen skerp aangeval.

Hy het duisende EFF-ondersteuners gister toegespreek tydens die party se tweede bestaansjaarvieringe by ‘n saamtrek in Rustenburg.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het ook onder skoot gekom. Malema het voorts beweer dat die Eskom-krisis, wat tot gereelde beurtkrag lei, opsetlik veroorsaak word.

Malema het beurtkrag as een van die ANC-regering se mislukkings beskryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.