Dan Roodt: Die Afrikaner as émigré

Deel op

Nadat die ekonoom Dawie Roodt met ‘n panga in sy garage aangeval is en hy teruggeveg het om sy gesin te beskerm, het hy gewonder wat hy met “dié inligting moet maak”. Moet hy “oppak en Perth toe gaan”? Iemand anders wat ek ken – haar seun woon in New York en is met ‘n Amerikanerin getroud – meen dat “die boonste laag almal die land verlaat het”. Die oorname van Suid-Afrika is so goed gedoen en die propaganda was só doeltreffend dat daar by die meeste Afrikaners ‘n soort willoosheid te bespeur is. Hulle konformeer, hou hulle koppe laag en “probeer net oorleef”. Totdat jy in jou huis aangeval word of jou werk of jou onderneming verloor omdat jy die verkeerde velkleur het, die verkeerde taal praat en moontlik selfs tot die verkeerde geslag behoort.

Jare gelede, toe Beeld nog my briewe geplaas het, het ek ‘n brief in daardie koerant geskryf waarin ek argumenteer dat daar in Suid-Afrika ‘n soort inwaartse emigrasie plaasvind. Mense verskans hul agter hoë mure, kyk Amerikaanse programme op TV  en verbeel hulle dat hulle in ‘n ander wêreld leef. Dis amper so erg soos in die fliek “The Matrix” waar mense ‘n aangename virtuele werklikheid beleef terwyl hulle in aaklige omstandighede uitgebuit word.

Daar is byna niks meer in Suid-Afrika wat Afrikaans is nie. Suid-Afrika is nou ewe Engels as Australië of die Verenigde Koninkryk. Die laaste bietjie Afrikaans wat nog op skole en sekere kampusse bestaan, word ook stelselmatig aangeval en – tensy ‘n wonderwerk gebeur – gaan verdwyn. Ons het letterlik vreemdelinge in ons eie land geword en baie van die elite-swartes en Engelssprekendes beskou ons inderdaad as vreemdelinge. Die onwettige immigrante vanuit Zimbabwe of Malawi is in die land welkom, maar nie Afrikaners nie. Op Twitter en elders is daar heel tyd mense wat vra: “Wanneer emigreer jy?” Of: “Is jy nog nie in Australië nie?”

Self het ek geen begeerte om Australië toe te gaan nie. Dis ‘n kultuurlose Engelse land vol mense wat met ‘n vreemde aksent praat. As jy regtig wil Engels word, waarom dan nie liewer die Moederland oorkant die Mou nie?

Afrikaners verteenwoordig ‘n mengsel van Noord-Europeërs. Trouens, die meeste Noord-Europeërs is self in daardie wêrelddeel deur oorloë en trekbewegings rondgeskommel, dus verskil ons nie soveel van hulle nie. Hulle praat nog hul eie tale soos Nederlands, Duits, Sweeds, Deens, Noors, ens., en ons praat steeds Afrikaans wat tot dieselfde taalfamilie behoort. Met min moeite kan ‘n Afrikaner enige van daardie tale aanleer, en andersom.

Afrikaners het ‘n soort staatlose volk geword. Weens die verlies aan politieke mag en invloed, tel ons drie eeue in Afrika niks nie. Ons word steeds as immigrante in ‘n Afrika- of Anglo-Afrika-land gesien. Die feit dat ons die meeste dorpe en stede gestig het, paaie gemaak en infrastruktuur geskep het, word ook nie as ter sake beskou nie. Die ironie is dat die 1994-revolusie vir links-liberale Engelse ‘n pyrrhusoorwinning was. Hulle het hul bes probeer om met die hulp van buitelandse moondhede die Afrikaner te vernietig, maar in die proses soveel haat, geweld en verdeeldheid in Suid-Afrika gesaai, dat hulle die land self vernietig het. Op die duur gaan die revolusie “sy kinders verorber”. Die Engelse stook tans die vuur om grondhervorming te laat plaasvind sodat Afrikanerboere van die grond verdryf kan word, nes in Zimbabwe, in die hoop dat die banke en ander groot maatskappye gespaar gaan bly. Maar dit sal nie gebeur nie. Die geskiedenis van Afrika ná onafhanklikwording toon dat daar in elke land streng rassekwotas toegepas is en dat die blankes uiteindelik alle reg op eienaarskap, hetsy van grond, hetsy van aandele in maatskappye, verloor. Soos die Engelse tannie wat in Soweto tydens die 1976-onluste geskree het: “I’m English! I’m English!” gaan dit hulle niks help nie. Die swart nasionaliste en selfs die Zuma-ANC sien hulle bloot as “wittes” en tref kwalik ‘n onderskeid tussen Engelse en Afrikaners. Zuma se opmerkings dat “Afrikaners ware Afrikane” is, moet ons maar met ‘n knippie sout neem.

Ek het tevergeefs na die woord “émigré” in die HAT gesoek, om die omskrywing daarvan hier aan te haal. Helaas, verskyn dit nie daarin nie. Nadat ek op my leertjie geklim het om op die boonste rak deel II van die WAT in die hande te kry, kan ek die volgende definisie gee:

“émigré. Iemand wat sy land verlaat [het] om aan politieke of godsdienstige vervolging te ontkom; in die besonder, vlugteling uit Frankryk na die opheffing van die Edik van Nantes (1685) en tydens die Franse Rewolusie (1789); uitgewekene.”

Die WAT laat egter na om te noem dat dié term tydens die twintigste eeu veral van toepassing was op Russe wat hul land ná die Bolsjewistiese Rewolusie van Oktober 1917 verlaat het. Een van my gunstelingskrywers, Wladimir Nabokof, was so ‘n émigré wat nooit weer na Rusland toe kon terugkeer nie en deur die kommunistiese bewind aldaar as ‘n verraaier beskou is. Duisende Oos-Europese émigrés vanuit lande soos Pole en Tsjeggië het ook na Suid-Afrika gekom omdat ons as ‘n bolwerk teen kommunisme beskou is. Helaas.

Net gister sien ek dat daar 8 000 Afrikaanssprekendes in Kanada woon, volgens die Kanadese Sensus. Waarskynlik is die ware syfer veel groter. ‘n Kenmerk van die Afrikaner-émigré is dat hy graag wil wegkruip en in sy nuwe land ekonomies welvarend wil wees.

Op ‘n sekere vlak het alle Afrikaners émigrés geword, ook dié wat vir die oomblik nog in Suid-Afrika woon en die geweld en diskriminasie van dié Afro-Saksiese samelewing moet verduur. Daar word elke dag soveel moorde in Suid-Afrika gepleeg (40) soos in ‘n hele jaar in Denemarke of België! Ons word omring deur aakligheid, oppervlakkigheid en veilheid. Suid-Afrika het ‘n estetiese en morele woesteny geword. Dis asof ‘n mens op ‘n ander planeet beland het en jy niks van jou of jou kultuur in die omgewing rondom jou herken nie.

Toevallig lees ek nou iets in ‘n boek oor die Franse letterkunde (Albert Thibaudet, Histoire de la littérature française, Stock 1936) raak, waarin die skrywer praat oor die toestand ná die Franse Revolusie van 1789 toe ‘n horde skrywers en aristokrate uit die land moes vlug, die oorspronklike émigrés. Volgens Thibaudet het die Franse revolusionêre presies dieselfde wetgewing op die aristokrasie toegepas as dít waarmee Lodewyk XIV die Protestante vervolg het. Ja, ook ons Hugenote-voorouers tel natuurlik onder die eerste golf van émigrés. Trek van daar af die lyn deur die Russiese Revolusie van 1917 en die Suid-Afrikaanse revolusie van 1994, en dis helder dat ons steeds met dieselfde geskiedkundige beweging te make het. Trouens, Joe Slovo, Ruth First, Bram Fischer en ander is natuurlik regstreeks deur die Russiese Revolusie geïnspireer, wat bloot ‘n voortsetting van die Franse Revolusie in ‘n meer radikale vorm, as “maatskaplike revolusie”, was.

Die punt wat Thibaudet egter maak, is dat die Franse skrywers hul land verloor het, maar “Europa in ruil ontvang het”. Net in Hamburg gaan woon daar 40 000 Franse wat hul eie teaters, kafees en sake-ondernemings oprig en binne die omringende Duitse kultuur hul eie identiteit en kultuur onderhou. Een Franse skrywer, Xavier de Maistre, verknies hom so in sy ballingskap dat hy ‘n boek skryf met die titel, “Reis rondom my slaapkamer” (Voyage autour de ma chambre). Maar vir ander word dit ‘n grootse ontdekking van ander tale en kulture, wat uiteindelik sou bydra om van Frans ‘n universele kultuur te maak.

Daarom, indien ons as Afrikaner-émigrés sowel binnelands as buitelands daarin sou kon slaag om daardie vreemde wêrelde in ons taal in te bring en van ons ballingskap ‘n soort “sukses” te maak, kan ons op die duur daarby baat. Uiteindelik mag die Afro-Saksiese Suid-Afrika wat die Engelsman en sy handlanger, die verengelste swartman, met revolusionêre geweld tot stand wou bring, in duie stort terwyl ons in ons émigré-kolonies regoor die aardbol en in beveiligde enklawes in SA ‘n nuwe Afrikaanse lewe skep. Sommige Afrikaner-émigrés beskik reeds oor meer taal- en kultuurregte in hul lande van aankoms as in hul land van herkoms. Waarom nie daardie regte uitoefen nie?

Nou die dag het iemand met my kom gesels wat ook glad nie vir hom en sy gesin meer ‘n toekoms in Suid-Afrika sien nie. Daarom leer hy en sy gesin Duits en Frans aan. Hy voel dat Afrikaners die “reg op terugkeer” na die EU behoort te hê. Dit is iets wat met die EU en ons stamlande opgeneem behoort te word. Immers het almal geweet van die risiko dat, sodra die ANC-SAKP oorneem, Afrikaners in die see gejaag sou word of, soos tans, deur minder ooglopende metodes wel uit die land verdryf sou word. Deur middel van wetgewing en die “lumpenweermag” van misdadigers, slaag die huidige bewind ewe goed daarin om ons uit die land te verdryf as deur militêre geweld – wat heelwat meer diplomatieke gevolge sou hê. Soos die hele strategie waarmee die ANC-SAKP die land verower het, is die huidige wyse waarop ons verdryf en vermoor word eintlik briljant. Die regering hou hom skynbaar by die grondwet en internasionale menseregtereëls, maar die lumpenweermag word net gelos om soos elders in Afrika, ongeag die Geneefse Konvensies, gruweldade jeens ons burgerlikes, vroue en kinders te pleeg. Daarmee saam word ons taal doodgesmoor en ons ekonomiese beweegruimte toenemend deur SEB-wetgewing aan bande gelê.

Afrikaans verdien om deur die EU as ten minste ‘n Europese minderheidstaal erken te word. Daardie “reg op terugkeer” behoort ook te geld in gevalle waar mense hier aan geweld of onveiligheid blootgestel word, of dit nou al met jou persoonlik gebeur het of nie. Tot onlangs het Duitsland interessante wetgewing gehad wat die terugkeerreg vir mense van Duitse afkoms gewaarborg het. Soortgelyke wetgewing behoort vir Afrikaners te geld. Ons wil nie soos Derdewêreldvlugtelinge behandel word nie, maar soos die Europeërs van oorsprong wat ons is. As Pole in Engeland kan gaan werk, waarom mag ons nie ook in Noord-Europa gaan woon om van die Suid-Afrikaanse nagmerrie te ontsnap nie? Daardie nagmerrie en die Suid-Afrikaanse revolusie is immers juis te wyte aan Skandinawiese, Kanadese, Britse en ander inmenging in ons land. Nes die VSA Irak en Libië gedestabiliseer en vernietig het, het daardie lande Suid-Afrika gedestabiliseer en afgetakel. Oos-Duitsland, wat deesdae deel van die herenigde Bondsrepubliek is, het ‘n vername rol in die kommunistiese terreur gespeel wat ons land sou destabiliseer. Daarom is Duitsland ook skuldig. Om nie van Nederland te vergeet nie, waaroor Martin Bosma so pas ‘n hele boek geskryf het, Minderheid in eigen land: Hoe progressieve strijd ontaard in genocide en ANC-apartheid.

Deur die geskiedenis het lande hul beste mense tydens revolusies uitgemoor of verdryf. Ons voorouers het dit in 1685 met die herroeping van die Edik van Nantes ervaar, terwyl ons dit nou aan eie bas voel met die pseudo-demokratiese Afro-Saksiese tirannie waaronder ons gebuk gaan.

Dit raak nodig dat ons besin oor die émigré-tema wat, te danke aan die Suid-Afrikaanse revolusie, alle Afrikanerlewens in die 21ste eeu gaan oorheers.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.