Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Verder oor die afgrond

Deel op

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers, het myns insiens op 30 Mei doelbewus versuim om die dood ‘n eeu tevore van die US se groot weldoener, Jan Marais, op die US-kampus te gedenk. Pleks van ooreenkomstig die US se stigtingsvoorwaarde dit te beklemtoon dat die US oorwegend ‘n Afrikaanse universiteit moet wees en bly, het De Villiers in sy intreerede as rektor op 29 April die minister van hoër onderwys, die kommunis Blade Nzimande, ge-eggo: “Stellenbosch is not an Afrikaans university.”

Kort voor 30 Mei is Afrika-dag (25 Mei) en kort daarna Jeugdag (16 Junie), eintlik ‘n verheerliking van die Soweto-opstand in 1976, egter wel amptelik op die kampus gevier, asook Mandela-dag (18 Julie). Afrika- en Mandela-dag is nie openbare vakansiedae nie, maar hulle sterk assosiasie met swartes maak hulle viering vir De Villiers gebiedend. Van Riebeeck-dag (6 April), oftewel Beskawingsdag, is weens FW de Klerk se oorgawe aan swart mag nie meer ‘n openbare vakansiedag nie en die neo-US het geen erg daarin om dit te gedenk nie. In werklikheid behoort die intrede van Europese beskawing in Suidelike Afrika deur al die universiteite in die streek gevier te word; des te meer omdat die universiteitswese een van die vele vrugte van Europese beskawing is.

As iemand nog oor die aard van De Villiers se mentaliteit getwyfel het, het hy seker gemaak dat almal weet waar sy simpatie lê toe hy heeltemal ongevraag ‘n artikel ter viering van Mandela-dag gepubliseer het (kyk hier onder). Dié dag word deesdae jaarliks op die US-kampus gevier. (Op die Universiteit Vrystaat se webwerf staan dat elke dag daar Mandela-dag is.) Aan die US het die Mandela-viering vanjaar, soos wat kenmerkend van die neo-US geword het, ‘n Engelse naam, Toasties for Tummies, gehad (US-webwerf 22 deser); gratis toebroodjies is eksklusief aan nie-wittes uitgedeel. Maar moenie van die neo-US verwag om een keer in ‘n eeu Jan Marais te gedenk nie, al is die US veel meer aan Marais as aan Nelson Mandela verskuldig. Van ideologiese neutraliteit, soos dit by ‘n universiteit hoort, is daar geen sprake nie, gevolglik word Afrikadag, die Soweto-opstand en Mandela-dag gevier omdat hulle met swartes geassosieer word. Beskawingsdag en Afrikaansdag (14 Augustus), daarenteen, word vanweë hulle assosiasie met blankes, veral Afrikaners, nie gevier nie.

Die jongste is dat die US die sogenaamde Slag van Andringastraat (1940) na 75 jaar op 27 deser gaan gedenk. De Villiers sal een van die sprekers wees. Volgens ‘n berig op die US-webwerf (22 deser) het blanke studente in 1940 “groot skade” in die bruin woongebied aangerig. Uiteraard word polities korrek niks gesê oor die klipgooiery en skade wat die bruines aan onder meer ‘n koshuis aangerig het nie. Die Slag van Andringstraat word afgestof en eensydig heropgedis omdat De Villiers daarna in sy intreerede verwys het. Hy het toe aangekondig dat die US voortaan die vermeende nageslag van hierdie bruines eksklusief met studiebeurse gaan beloon; as’t ware ‘n Wim de Villiers beloning-vir-klipgooi projek. Sy toespraak op 27 deser kan aan hom die geleentheid gee om verskoning te vra omdat die US ‘n driekwarteeu lank gesloer het om met die geld vorendag te kom. Vir die soveelste keer sedert 1990 word geweld en ander misdaad ruim vergoed.

De Villiers is klaarblyklik vasbeslote om te bewys dat hy sy voorganger, Russel Botman, in politieke linksheid kan oortref; dat die aanstelling van ‘n blanke as opvolger vir ‘n bruin rektor transformatories glad nie ‘n terugwaartse stap was nie. Sedert sy diensaanvaarding op 1 April het De Villiers hom binne sy eerste kwartaal as rektor met oorgawe en onontsnapbaar in die linkse politieke hoek vasgeverf. Hy leef sy onredbare linksheid met passie uit. Sy verknogtheid aan mode-politiek verseker dat hy presies die teenoorgestelde standpunt as Allan Bloom (1930-1992) huldig: “True openness means closedness to all the charms that make us comfortable with the present” (The Closing of the American Mind: How higher education has failed democracy and impoverished the souls of today’s students, London: Penguin, 1987, p 42).

Die De Villiers-redenasie kom neer op iets soos die volgende: Die land word nie deur die beste mense (op al drie vlakke) regeer nie. Op die regbank word nie die beste regslui aangestel nie. In die nasionale sportspanne word nie die beste spelers gekies nie, ens. Die demografie-gedrewe, polities korrekte US is gevolglik gemaklik daarmee om nie die akademies beste studente tot studie toe te laat of die akademies beste dosente aan te stel nie. Daar is by die US glo steeds ‘n strewe na uitnemendheid, maar deesdae is dit sekerlik eerder politieke as akademiese uitnemendheid.

Wim de Villiers oor Mandela-dag

In sy artikel ter viering van Mandela-dag (Die Burger, 16 deser, p 15) noem De Villiers Mandela by voorkeur Madiba, soos ‘n mens van ‘n onkritiese bewonderaar kan verwag. De Villiers dink ons doen die nalatenskap van Mandela gestand deur “te besin oor hoe ons mekaar help om vooruitgang te maak in die lewe.” Vergete is die ANC se pogings om die land onregeerbaar te maak en tot in die grond af te breek. De Villiers meen Mandela is “die man wat ons steeds onderrig oor die deugde van onbaatsugtige diens aan andere.” Werp dit lig op die soort “onderrig” wat die US verskaf? Het Mandela ook ‘n lofwaardige voorbeeld met sy bomplantveldtog gestel? Is selektiewe geheue ‘n bate in die akademie? Wanneer het Mandela “onbaatsugtig” en versoenend geword en mooi broodjies begin bak? Eers nadat hy sy sin gekry het, naamlik toe swartes die politieke mag oorgeneem het. Eers toe is van almal verwag om die gewelddadigheid, wat so kenmerkend van die UDF/ANC was, stop te sit. Mandela was die grondlegger en eerste hoof van MK, die geweldsarm van die ANC. Mandela is die onbetwisbare vader van die geweld wat tot op hede in die land voortduur.

De Villiers spog met die US-dwaasheid om in 1996 ‘n akademies waardelose eredoktorsgraad aan Mandela toe te ken. Dit maak sin vir De Villiers, want so ‘n daad is in die mode en polities korrek. Dit verhoog die aansien van die US in die linkse politiek, maar glad nie die akademiese aansien van die universiteit nie. Aan die neo-US het dit die gevestigde gebruik geword om akademiese korrektheid ondergeskik aan politieke korrektheid te stel; iets wat gewoon ‘n skande is. Mandela word soos volg aangehaal: “Onderwys is die kragtigste wapen waarmee ons die wêreld kan verander.” Dit pas De Villiers om nie te noem dat dit marxiste is wat die wêreld eerder wil verander as verbeter nie. Ook nie dat dit die UDF/ANC was wat die strydkreet “liberation before education” aangehef het en daarmee ‘n geslag onopgevoedes of ongeskooldes gelewer het nie.

Wanneer De Villiers oor navorsing aan die US skryf, noem hy polities korrek “maatskaplike uitdagings soos werkloosheid, armoede [en] ongelykheid.” In sy intreerede het De Villiers in sy Amerikaanse idioom ‘n swart student as navolgenswaardige voorbeeld voorgehou. Hierdie keer is dit ‘n bruin student wat glo by die US se Hope@Maties-program gebaat het. Let op die Engelse benaming en dat die program eksklusief by “histories agtergeblewe skole” aangebied word. Neem dit dus met ‘n knippie sout as die US roem op sy inklusiwiteit. Blankes mag van bevoordeling uitgesluit word, maar nie-wittes moet altyd in dieselfde mate of meer as blankes by enige bevoordeling ingesluit word. Gaan De Villiers volgende keer ‘n blanke student (bv ‘n Afrikaanssprekende boerseun) as toonbeeld voorhou of sal hy liewer polities korrek ‘n Indiërstudent uitsoek?

Die US-studenteraad het ook ‘n beursfonds. Uit die Engelse naam, M4M (Maties for Maties), kan (moontlik) afgelei word dat dit hier ook by voorkeur om hulp aan nie-wittes gaan. De Villiers noem dat die US vanjaar meer as 22 000 aansoeke vir die 5 000 studieplekke ontvang het. Wat hy gerieflikheidshalwe nie noem nie, is dat daar ras- en geslagsgebaseerde kwotastelsels bestaan waarvolgens nie-wit eerder as wit kandidate en vroue eerder as mans tot studie aan die US toegelaat word. By studentetoelating bestuur die US intern (dus buite die openbare oog) na willekeur die pas van verswarting. Wat oogluikend aan die neo-US teen blankes gepleeg word, kan kognitiewe ongeregtigheid en kognitiewe ontmagtiging genoem word. Die soort diversiteit wat nagestreef word, is die vermindering van die blanke komponent en die vermeerdering van die nie-blanke komponent by sowel die studente as die personeel. Inklusiwiteit word vertolk as die insluiting van nie-wittes by enigiets waarby blankes betrokke is. Die omgekeerde geld egter nie. Daarom word blankes in talle opsigte uitgesluit van die bevoordeling wat aan nie-blankes toebedeel word, of blankes word in mindere mate bevoordeel, bv by toelating tot studie, studiebeurse, plasing in koshuise, ens. Dit kom op doodgewone rasse- en geslagsdiskriminasie neer maar word transformasie of regstelling genoem.

Daar is geen sprake van ewewigtige nie-rassigheid of ewekansige onbewustheid van kleur nie. Sowel ras as geslag speel ‘n deurslaggewende rol in alle besluitneming aan die neo-US. Byna 55% van die US se inkomste uit studentegelde word aan beurse en lenings uitbetaal. Hiervan gaan 55% aan bruin, swart en Indiërstudente, hoewel hulle steeds die minderheid is. De Villiers wil vorentoe graag meer beurse toeken en dit sal sekerlik by voorkeur aan nie-wittes gaan, want alles moontlik word gedoen om te sorg dat wanneer die US in 2018 sy eeufees vier die nie-wittes die meerderheid sal wees. Die studiegeld wat blankes betaal, asook blankes se donasies, maak dit moontlik om kwistig studiebeurse aan nie-blanke studente toe te ken.

Andreas van Wyk oor Jan Marais

Saam met De Villiers se artikel is daar ‘n foto gepubliseer van die geleentheid toe Mandela ‘n eredoktorsgraad van die US ontvang het. Klaarblyklik word dit as ‘n trotse oomblik in die geskiedenis van die US beskou. Andreas van Wyk was toe die rektor en hy lyk hoogs in sy skik met wat die US gedoen het. Van Wyk was ‘n Broeder en het in 1992 tydens sy ampstermyn as rektor gesorg dat die wet op die US verander word deur te spesifiseer dat die universiteit se voertaal toe Afrikaans was. Amanda Gouws en Johan Hattingh was onder diegene wat daaroor gal afgegaan het (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 62-63).

Van Wyk is die voorsitter van die trustees van Het Jan Marais Nationale Fonds. Hy het die leiding by die plegtigheid op 30 Mei geneem toe Marais se dood na ‘n eeu gedenk is. Die teks van sy toespraak by die dinee in die Coetzenburg-huis, wat eens Marais se woning was, is op LitNet (Menings, 1 deser) gepubliseer. Daarin maak hy geen melding van Marais se uitdruklike voorwaarde vir sy skenking wat die ontstaan van die US moontlik gemaak het nie. Marais se bewoording is: “De Hollandsche Taal in zijn beide vormen – dwz Afrikaans zoowel als Nederlandsch – geen minder plaats dan het Engelsch innemen zal” (JC Steyn, Ons Gaan ‘n Taal Maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 183). Van Wyk se verontskuldiging is dat die nakoming van Marais se voorwaarde die verantwoordelikheid van die trustees van ‘n ander fonds, die Jan Marais Fonds, is.

Onderaan sy teks kan gesien word dat Van Wyk nogal geïrriteerd was omdat iemand dit durf waag het om hom te kritiseer omdat hy nie Marais se US-stigtingsvoorwaarde opgehaal het nie. Die punt is dat Van Wyk een van diegene is aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om te sorg dat Marais se wense uitgevoer word noudat hy dit nie meer self kan doen nie. Van Wyk weet eerstehands van die stelselmatige agteruitgang van Afrikaans aan die US. Hy weet dat dit De Villiers se uitgesproke beleid is om nie net voort te gaan met die verswarting en verengelsing van die US nie, maar dat hy hierdie prosesse wil versnel. Op hierdie manier sal Afrikaans ongetwyfeld al hoe meer afgeskaal word. Op die US-webwerf en in die berigte in Die Burger word Marais se US-stigtingsvoorwaarde deurgaans en myns insiens doelbewus verswyg. Van Wyk se mening kan nog aansienlike gewig op die kampus dra, as hy maar net bereid sou wees om vir Afrikaans in die bres te tree. Enigeen wat met gesag oor Marais se nalatenskap kan praat behoort te beklemtoon dat die US taalgewys op die verkeerde pad is. Die rektor en die US-raadsvoorsitter behoort uitgedaag en verkieslik verplig te word om sonder omhaal van woorde te sê of hulle Marais se wens eerbiedig of ignoreer. ‘n Mens behoort nie ter wille van die vrede oor so ‘n belangrike saak soos die heil van Afrikaans as onderrigtaal te swyg nie.

Wim de Villiers se brief

Na sy eerste kwartaal as rektor het De Villiers ‘n omsendbrief per e-pos aan die US-personeel en -studente gestuur (US-webwerf 17 deser). Eintlik reageer hy op Open Stellenbosch se weerstand teen Afrikaans op die kampus: in die klaskamers, administrasie en koshuise. De Villiers is gepla met die Grondwet en die Departement Hoër Onderwys se beleid en glad nie met Marais se stigtingsvoorwaarde nie. De Villiers vertolk sy standpunt as nie-ideologies, oftewel nie-polities: “Die behoud van Afrikaans as onderrigtaal moenie beskou word as die aankleef van ‘n bepaalde politieke ideologie of ‘n meganisme vir uitsluiting nie. Enige taal, in ons konteks ook Engels, kan ‘n struikelblok in die pad van toelating of akademiese sukses wees. Daarom is dit die US se oogmerk om tersiêre opvoeding deur middel van Afrikaans én Engels te bevorder … [gevolglik] gaan ons nie by ‘n ideologiese debat – hetsy pro- of anti-Afrikaans – betrokke raak nie.”

Die Burger (20 deser, p 1) het in sy berig De Villiers se bevordering van Afrikaans én Engels beklemtoon. Die punt is dat die huidige taalbeleid van die US, waarvolgens Afrikaans en Engels net voorgraads (teoreties) gelyke status geniet, reeds ‘n verkragting van Marais se voorwaarde is. Afrikaans mag nie ‘n mindere status as Engels hê nie, terwyl openlik erken word dat nagraadse onderrig (hoofsaaklik) in Engels geskied en dat tolking van Afrikaans na Engels voorgraads nodig is, maar nie noodwendig tolking van Engels na Afrikaans nie. Die US is moreel, histories en kontekstueel (as die enigste Weskaapse universiteit wat in ‘n mate onderrig in Afrikaans aanbied) veronderstel om pro-Afrikaans te wees, maar De Villiers weier om openlik pro- of anti-Afrikaans te wees. Daar is egter geen rede om sy pro-Engelse gesindheid te bevraagteken nie.

Die gevaar wat die US se huidige taalbeleid van gelyke status vir Afrikaans en Engels inhou en die rektor se oorgewilligheid om aan die eise van ‘n klein groepie in die swart minderheid toe te gee, het pas by ‘n buurinrigting, die Landboukollege Elsenburg, geblyk toe die 50-50%-taalbedeling oornag in uitsluitlik Engelse onderrig verander is, al is die Afrikaanssprekende studente die meerderheid (Maroelamedia 23 deser).

Dat De Villiers nou erken dat Engels ‘n uitsluitingsmeganisme kan wees, is ‘n wins. Die rede waarom hierdie erkenning polities nie te inkorrek is nie, is omdat plattelandse bruin studente probleme met onderrig in Engels kan ondervind. Die belange van blanke studente, veral Afrikanerstudente, geniet sekerlik nie voorkeur bo dié van nie-blanke studente nie. Die uitgesproke ideaal is dat die blanke studente minder en die nie-blanke studente meer moet word; in getal en persentasiegewys.

Voorheen het ‘n bruin en hoogs aktivistiese bevrydingsteoloog as die studentedekaan gefunksioneer. Daarna is hierdie pos uitgebrei deur ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit te stig met dieselfde aktivis aan die hoof. Hierdie skuif is deur die vorige rektor, Russel Botman, sonder die US-raad se goedkeuring gedoen. Die sentrum is gevolglik gesluit. De Villiers het hierdie afskaffing ondersteun met die argument dat inklusiwiteit in alle US-aksies nagestreef moet word. Swart studente dring egter op die herinstelling van die pos van studentedekaan aan. Omdat toegewing aan eise uit daardie oord aan die orde van die dag is, word hierdie saak nou verder deur die US-bestuur ondersoek.

Transformasie, wat in die praktyk wesenlik verswarting en verengelsing beteken, gaan versnel word. Nico Koopman, ‘n bruin bevrydingsteoloog, is onlangs met De Villiers se seën as ‘n viserektor aangestel. In sigself is hierdie aanstelling deel van transformasie. Nou gaan die woord “transformasie” deel van Koopman se viserektorbetiteling word. Transformasie, wat glad nie deel van die wesenlike akademiese aard van ‘n universiteit is nie, gaan waar moontlik oral figureer. Daar word selfs gewag gemaak van die “transformasie-kompetensie” van die personeel en studente. By dosente is blote akademiese bekwaamheid klaarblyklik nie meer voldoende nie. Hulle sal ook die vermoë moet openbaar om entoesiasties die mode-politiek van transformasie te ondersteun. Daar gaan ook “vernuwing van die institusionele kultuur” wees. Soos op Potchefstroom word die eertydse prominensie van Afrikanerkultuur en Afrikaans nie op die kampus geduld nie.

‘n Kantoor vir Transformasie gaan tot stand gebring word en ‘n Transformasiekomitee word gestig. Hierdie opset lyk boosaardiger as die Sentrum vir Inklusiwiteit wat afgeskaf is. Nog is dit het einde niet. ‘n Navorsingsleerstoel in Versoening en Transformasie gaan ingestel word. Dit herinner aan die Institute for Reconciliation and Social Justice aan die Universiteit Vrystaat wat na die Reitz-sage deur Jonathan Jansen in die lewe geroep is. Die studentedekaan, die hoof van die transformasiekantoor en die transformasieprofessor in die nuwe leerstoel, asook moontlike ander personeellede in hierdie drie instansies, sal seker by voorkeur almal nie-wit moet wees* om “legitimiteit” aan hierdie poste te verleen, of dit sal mense moet wees wie se oorverligtheid oorbekend, oftewel berug, is. (Kampustalent wat vir aanstelling in die leerstoel kwalifiseer, is die uitgelese Anton van Niekerk en die aartsfeminis Amanda Gouws.) Aan die US word daar deesdae in elk geval indien enigsins moontlik nie-wittes aangestel, sodat dit as ‘n wen-wen transformasiesituasie getakseer sal word. [* Samuel Johnson (1709-1784) het die absurditeit van hierdie soort redenasie met die volgende opmerking uitgewys: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The Life of Samuel Johnson, London: Everyman, 1992, vol 2, p 527.)]

Suiwer akademies gesproke is hierdie skuiwe egter ‘n ramp, want baie geld, wat progressief meer sal word, word na hierdie nie-akademiese foefies gekanaliseer. Dit is geld wat aan ‘n egte universiteit vir die uitbouing van die akademie aangewend sou word. Hou in gedagte dat die eertydse Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis, wat voortreflike akademiese werk gedoen het, nie toegelaat is om aan die neo-US voort te bestaan nie. ‘n Leerstoel in Versoening en Transformasie, wat ‘n sterk ANC-geur het, word egter nou as nodig, selfs as noodsaaklik, beskou. Wat dit duidelik uitwys, is dat daar ‘n verskuiwing van behoudende, sinvolle akademie na ANC-gedienstige politieke opportunisme plaasgevind het.

Michael le Cordeur oor Mandela-dag

Toe Michael le Cordeur sien sy rektor, De Villiers, het oor Mandela-dag in Die Burger gepubliseer, het hy blykbaar besluit om ook ‘n artikel oor sy held saam te stel en dit oor die boeg van Afrikaans te gooi. Myns insiens het Die Burger (21 deser, p 11) sy teks graag gepubliseer. (Oudergewoonte is Le Cordeur se artikel ook op die webwerf van die Afrikaanse Taalraad gepubliseer.) Vir Le Cordeur is Mandela baie meer as bloot ‘n held. Le Cordeur is ‘n Mandela-fanatikus wat Mandela by voorkeur Madiba noem en wat nooit enige negatiewe uitlating oor hierdie geweldenaar maak nie. Baie van die oorbekende Mandela-sprokies, soos sy teedrinkery met Betsie Verwoerd en sy dra van die Springbokrugbytrui, word afgestof en vir die soveelste keer vertel.

Le Cordeur beweer Mandela was lief vir Afrikaans en dat hy na Afrikaners uitgereik het al was dit Afrikaners wat hom tronk toe gestuur het. [Op LitNet (Onderhoude, 23 deser) stel hy dit soos volg: “Die Afrikaners dra swaar aan hulle skuldgevoelens en oor wat hulle aan Madiba gedoen het.”] Le Cordeur dink dat min mense Mandela sou verkwalik as hy wraak geneem het, maar pleks daarvan het hierdie goeie mens versoening gepredik. Hy haal ‘n verlinkse outoriteit soos Antjie Krog aan om te bevestig dat die blankes onnodig bang vir die Mandela-bewind was. Soos spoedig geblyk het, was die meeste blankes egter heeltemal tereg bekommerd oor ‘n gesofistikeerde, ontwikkelde land wat eensklaps op ‘n rampspoedige manier deur onbekwame swartes regeer is.

Mandela het glo Afrikaans in die tronk geleer om beter met sy bewaarders te kommunikeer. Dit is egter bekend dat Mandela Afrikaans gelees het om inligting ter bevordering van sy politieke, bv terroristiese, bedrywighede te bekom. Niël Barnard noem bv dat Mandela Christiaan de Wet se boek, Die Stryd tussen Boer en Brit, gelees het (Geheime Revolusie, Kaapstad: Tafelberg, 2015, p 146). Mandela het ook kennis geneem van wat in Afrikaanse koerante staan, maar dit was sekerlik ter bevordering van sy politiek van swart mag. [In sy genoemde LitNet-onderhoud erken Le Cordeur dat Mandela Afrikaans geleer het om Afrikaners “te kry dat hulle inkoop” op sy idees.] Saam met Krog kla Le Cordeur omdat min publisiteit aan Mandela verleen is terwyl hy in die tronk was. Dit is tog sekerlik ‘n maklik verstaanbare veiligheidsmaatreël, al is dit seker so dat Le Cordeur verkies dat daar toe reeds onbeperkte bewondering vir ‘n veroordeelde terroris moes gewees het.

Omdat Le Cordeur sy lofskrif vir Mandela oor die boeg van Afrikaans gooi en hy die bekendste Mandela-sprokies heropdis, staan hy noodwendig ruimte aan Ingrid Jonker se gedig “Die kind” af. Die gedig handel oor ‘n swart kind wat deur die apartheidsregime se veiligheidsmagte deur die kop geskiet is. Dit kom neer op die oorbekende storie van wittes wat aan moord skuldig is en dat ‘n heeltemal onskuldige swarte met sy lewe geboet het. Mandela het dit in 1994 tydens sy eerste staatsrede in die parlement voorgelees. Naïewes was destyds in Die Burger en elders gaande oor die sogenaamde erkenning wat Mandela daarmee aan Afrikaans gegee het. Maar dit is tog duidelik dat Mandela op sy sluwe manier die gedig misbruik het om ‘n hou teen Afrikaners in te kry. Hy sou nie ‘n teks voorlees het wat swartes in ‘n slegte lig stel nie. Le Cordeur se kommentaar is kenmerkend van sy linkse politieke ingesteldheid. Mandela het glo hiermee die Afrikaners, wat (tereg!) gedink het dat hulle in die nuwe Suid-Afrika “gemarginaliseer sou word, … onkant gevang.”

Le Cordeur hou daarvan om in sy geskrifte homself as toonbeeld voor te hou; om homself tussen die leser en die onderwerp te plaas. Die leser moet bewus daarvan gehou word dat hier ‘n belangrike outeur aan die woord is (kyk die volgende paragraaf hier onder). Daarom noem hy dat Jakes Gerwel sy Afrikaansdosent was. Gerwel se spesialiteit was om Afrikaanse literatuur met die oog op die politiek daarin te lees. Daarom was Jonker se genoemde gedig een van sy gunstelinge. Dit is ongetwyfeld Gerwel wat Mandela aangemoedig het om hierdie gedig vir linkse politieke doeleindes in die parlement te misbruik. Le Cordeur se mening is dat Mandela ‘n “enorme nalatenskap” het. Hy impliseer dat hierdie nalatenskap net positief is. Deel hiervan is glo dat Afrikaans “bevry van sy gekontamineerde verlede” is. In werklikheid is daar baie wat voortreflik tydens die blanke bewind was; ook in die geskiedenis van die Afrikaner en Afrikaans. Le Cordeur kan gerus ‘n slag krities na die besoedelde hede kyk; ‘n land wat vrot van bv korrupsie, geweld en ondoeltreffendheid is. Is dit nie per slot van sake deel van Mandela se “enorme nalatenskap” nie?

Selfvertroetelend sluit Le Cordeur sy artikel soos volg af: “Al weet ek dat ek meer krediet [eintlik: erkenning] sou kry as ek in Engels publiseer, maak ek werk daarvan om vir elke Engelse artikel ook ‘n Afrikaanse een te skryf. Vergeleke met wat Mandela vir ons [?] moes opoffer, is dit dalk ‘n klein prys om te betaal.”

Slot

‘n Mens aanvaar geredelik dat daar verskil van mening oor die politiek bestaan. Vir my is die ANC se politiek met sy sterk kommunistiese inslag onaanvaarbaar. Afgesien van die ideaal van ideologiese neutraliteit staan dit akademici nie vry om in hulle hoedanigheid as akademici politiek op so ‘n manier te bedryf dat die wese van die universiteit aangetas word nie. Die afgrond waarna in die opskrif verwys word, is nie soseer ‘n politieke afgrond nie as ‘n akademiese een. Deur oor hierdie afgrond te gaan, beland die universiteit in ‘n politieke moeras wat sy akademiese kern kan vernietig.

Ten slotte stippel ek ‘n vierpuntplan uit wat die US kan gebruik om uit sy dieper wordende politieke moeras te kom:

  • Eerbiedig die wense van Jan Marais. Stel dit as ononderhandelbaar dat die US vorentoe oorwegend ‘n Afrikaanse universiteit gaan wees.
  • Stel die akademies beste dosente aan, dus ingevolge bewese bekwaamheid en nie volgens gewaande potensiaal nie en sonder inagname van bv ras en geslag.
  • Laat die akademies beste kandidate tot studie toe, dus ingevolge bewese bekwaamheid en nie volgens gewaande potensiaal nie en sonder inagname van bv ras en geslag.
  • Bestee geld aan die uitbouing van die akademie en nie aan politieke foefies nie.

Opsommend sal die volgende Amerikaanse leuse dalk die duidelikste tot De Villiers spreek: “Better education for the best people” (Bloom, p 49). Op hierdie manier kan sommer ook van die meeste lede van Open Stellenbosch ontslae geraak word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.