Post-/moderne musiekkonsert en voorlesing op 31 Julie 2015

Deel op

‘n Kombinasie van eietydse musiek en ‘n boekvoorlesing word op 31 Julie 2015 om 18:30 by Hoërskool Randburg se musieksentrum aangebied deur Benjamin Fourie (pianis) en Dan Roodt (skrywer en voorleser). Klavierwerke van Ilse-Mari Lee, Étienne van Rensburg en Peter Klatzow verskyn op die program, asook ‘n voorlesing in Afrikaans uit ‘n Franse roman deur die wêreldberoemde Belgiese skrywer Jean-Philippe Toussaint.

“Dis ‘n Afrikaanse kultuuraand in ‘n meer moderne of postmoderne gedaante,” sê dr. Dan Roodt. “Deur eietydse klaviermusiek met eietydse letterkunde in Afrikaans op dieselfde program te kombineer, stel ons die toeheerder bekend aan ‘n hele nuwe wêreld wat geruimte tyd reeds in Afrikaans bestaan, maar nie so dikwels gehoor word nie.”

Plek: Hoërskool Randburg-musieksentrum, h/v Malibongwe en Rabie.
Tyd: 18:30
Toegangsfooi: R130 vir volwassenes, R70 vir skoliere, studente en pensioenarisse. Kaartjies by die deur of per kredietkaart of bankoordrag op www.praag.co.za.

1 Variasies op Ver in die wêreld Kittie Ilse-Mari Lee (*1962)
Ilse-Mari Lee is dekaan van die honneursprogram van die Staatsuniversiteit van Montana in Bozeman, VSA. Haar stel Variasies is in 2003 gekomponeer ná die dood van haar moeder Barbara van Wyk, wat ‘n bekende Unisa eksaminatrise en klavierdosent was, asook die geboorte van haar dogter Elizabeth in 2002. Soos in ‘n klavierles word die luisteraar bekendgestel met die style van verskillende komponiste, en ook die ontwikkeling van kunsmusiek oor 300 jaar. Hulde word aan verskeie komponiste gebring, naamlik Bach, Mozart, Beethoven, Brahms, Chopin, Liszt, Joplin, Khatchaturian en Rachmaninoff.

2 Se una notte d’inverno W46/99 Étienne van Rensburg (*1963)
Sou op ‘n wintersnag
‘n Reisiger
Op reis gaan
Étienne van Rensburg was Uitvoerende Voorsitter van Obelisk, ‘n musiekvereniging wat gedurende die 1990s uitvoerings van musiek van Suid-Afrikaanse komponiste in hoofsaaklik Pretoria aangebied het. Bovermelde klavierwerk is geinspireer deur die gelyknamige post-moderne novelle van Italo Calvino, Se una notte d’inverno un viaggiatore, en die naasliggende gedig van Benjamin Fourie. Vyf tematiese episodes word in die eerste deel bekedgestel, waar die linkerhand dikwels ‘n ander tema en melodiese lyn as die regterhand het, en dit word verder in die tweede deel ontwikkel. Kenmerkend hier is ook ‘n gedeelte gesentreer op ‘n F in die linkerhand – bepeinsend van aard – en ‘n kosmiese storm teen die einde. Die derde deel is dromerig met afwisselende optimistiese seksies. Die einde is elegies, soos die begin.

3 Praatjie oor post-modernisme en voorlesings uit Moltrein en Die badkamer, ongepubliseerde vertaling uit Frans, deur Dr Dan Roodt.

4 Suite vir Klavier: Uit Ons Digkuns Peter Klatzow (*1945)
Gebed om die gebeente (DJ Opperman)
Dae voor winter (Phil du Plessis)
The Watermaid’s Cave (RM Bruce)
Impundulu (AG Visser)

Peter Klatzow is professor emeritus aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy lank Hoof van die Musiekdepartement was. In hierdie omvangryke stel stukke van 1992 word die land, met verskeie aspekte van die geskiedenis asook elemente geïnspireer deur die natuur, in surreële styl weergegee. Dit is aan Anton Nel opgedra.

Gebed om die gebeente handel oor Gideon Scheepers, seiner gedurende die Anglo-Boereoorlog wat die Kaapkolonie binnegeval het in reaksie op die Verskroeide Aarde en Kosentrasiekamp Beleid en sy teregstelling in Graaff-Reinet, Karoo, Dae voor winter is sewe miniatuur Paasbepeinsings by die see in Kalkbaai, The Watermaid’s Cave is ‘n oerwoudlegende en vertel van ‘n jagter se verdwyning by ‘n magiese watergrot, en Impundulu verklank die respek vir ‘n vreesanjaende Hoeveldse donderstorm en die gevreesde blitsvoël wat alles met een slag kan verpletter.

Plakkaat3

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.