‘Soos ‘n hond doodgeskiet’

Deel op

’n Bekende inwoner van Grootfontein, mnr. Peter (Piet) Jakob (52), is Dinsdagaand op sy ma se kleinhoewe buite die dorp doodgeskiet.

“Hy is soos ’n hond doodgeskiet,” het ’n bekende sakeman van dié Noordedorp, mnr. Seeff Oosthuizen, gesê. Hy was een van die eerste mense op die toneel.

“Ek het omstreeks 17:24 ’n oproep van Brian Scott van Bank Windhoek oor die voorval gekry en ons het altwee na die plot gejaag en gelyktydig daar aangekom. Daar het ’n bloedkol by die hek in die veiligheidsheining gelê, so dit lyk of Piet daar geskiet is,” het Oosthuizen gister aan Republikein vertel.

“Die hek was oop en ons het ingestap en vir Piet op die grasperk voor die huis, sowat 15 treë van die heining, gekry. Hy het op sy maag gelê. Daar was ’n skietwond in sy agterkop en een aan sy regterblad.”

Oosthuizen sê Jakob se polsslag was toe al reeds baie swak en hy het vir Scott gevra om by hom te bly.

“Ek het in die huis ingegaan na Piet se ma toe. Sy het gesê Piet was met die werkers in dorp toe en toe sy bakkie buite stop, het sy skote gehoor en die honde hoor tjank,” vertel Oosthuizen.

“Sy het tydens die skietery die huis gesluit en met haar sekuriteitsflits wat ’n alarm het, groot lawaai gemaak. Sy het gesê sy het vier jong, onbekende mans by die hek sien uithardloop.”

Oosthuizen het met die swaargewonde Jakob hospitaal toe gejaag, maar hy was met sy aankoms dood verklaar.

Volgens Oosthuizen was daar goeie samewerking van die buurtwag en boere en selfs spoorsnyers is ingespan.

“Jaco van Dyk se helikopter is laat kom, maar dit was te laat, want die donker het ons gevang,” het Oosthuizen gesê.

Hy sê teen gister was een van die swart verdagtes by die weermagkamp vasgetrek.

Die woordvoerder van die polisie van die Otjozondjupastreek, adj.off. Maureen Mbeha, het gister die voorval bevestig en gesê dat die polisieondersoek steeds voortduur.

“Ek kan bevestig dat een van die verdagtes ondervra word en die polisie werk baie hard om die ander verdagtes aan te keer,” het Mbeha gister aan Republikein gesê.

“Een van die groot honde is doodgeskiet. Dit is ook nog nie vasgestel of enigiets gesteel is nie,” het sy gesê.

Die Jakobse het voorheen Bäckerei Jakob op Grootfontein besit waarvan Peter se pa, mnr. Fritz Jakob, die eienaar was. Sy pa het verlede jaar gesterf. Peter het by sy bejaarde ma, me. Gisela Jakob, op die plot naby die koeldrankfabriek op die pad na Rundu gebly.

Jakob was ’n verkoopsverteenwoordiger, maar volgens Oosthuizen wou hy in Februarie volgende jaar bedank om voltyds by sy ma op die plot te gaan bly om na haar om te sien.

Volgens sy niggie, me. Hildegard Brenner, het sy die skoknuus Dinsdag omstreeks 19:00 gekry. Sy het weer gesê twee van die groot honde is ook saam met Jakob doodgeskiet. Een van Jakob se broers, mnr. Günther Jakob, ook ’n bakker, is van Duitsland op pad.

Jakob was ongetroud en het geen kinders gehad nie. Hy word deur sy ma, drie broers en ’n suster oorleef.

Hy word deur Grootfonteiners as baie sagmoedig en vriendelik beskryf. “Hy was iemand wat niemand leed sou aandoen nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.