Turkye verskerp veiligheid na ISIS-aanval

Deel op

Turkye het Woensdag veiligheidsmaatreëls op die grens met Sirië verskerp nadat ’n selfmoordbomaanval, waarvoor ekstremiste van die Islamitiese Staat (ISIS) groep die skuld kry, die lewe van 31 mense geëis het en die vrees laat ontstaan het dat die Siriese konflik oor die grens na Turkye kan versprei.

Maandag se aanval in die dorp Suruc was een van die dodelikste aanvalle in Turkye in etlike jare en die eerste keer dat die regering IS regstreeks van ’n aanval op Turkse grondgebied be­skuldig het.

Pro-Koerdiese aktiviste wat by ’n Turkse kultuursentrum met voorbereidings besig was vir ’n humanitêre sending na die dorp Kubane in Sirië, se verminkte lyke het ná die aanval op die toneel gelê. Altesaam 31 van die nagenoeg 300 sosialistiese jeugaktiviste wat in die sentrum was, is dood en ongeveer 100 beseer.

Honderde pro-Koerdiese aktiviste het Maandagnag in Turkse stede teen die aanval en die regering se beleid jeens Sirië betoog en in Istanboel het die polisie waterkanonne op betogers gerig om hulle uiteen te jaag.

Dosyne mense is in Oktober verlede jaar in landwye betogings dood toe betoog is teen die regering se vermeende gebrek aan steun vir Koerde wat teen die djihadiste van ISIS veg.

Die weste beskuldig Turkye daarvan dat nie genoeg gedoen word om die opkoms van IS te stuit nie en dat selfs met die groep saamgewerk word, beskuldigings wat ten sterkste deur Turkye ontken word.

In die afgelope weke het Ankara strenger teen die groep begin optree en dosyne vermeende ISIS-lede in Istanboel en ander stede aangekeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.