Koreaan met houtswaard teen swart aanvallers

Deel op

Dit was ’n swart bende met ’n hand­wapen teen ’n Koreaan met ’n Oosterse houtswaard toe geweld Sondagaand net voor elfuur in ’n dubbelverdiepinghuis teenaan die Walvisbaaise strandmeer losgebars het.

Die Oosterse swaard het een barshou ingekry en die Koreaan was ook aan die ontvangkant toe ’n koeël van die aanvallers hom net bokant sy linkerknie getref het.

Drie skote is deur die vier aanvallers in die huis van die Koreaan gevuur met net die een koeël wat op ’n kort afstand ’n ligte vleiswond aan die Koreaan besorg het. Die man van die Ooste, sy vrou en dogter was in die huis toe die vier verdagtes toegang verkry het nadat hulle ’n skroewedraaier by een van die deure gebruik het.

Voor die aanval het van die inwoners van die omgewing reeds kommer uitgespreek oor vier onbekende mans wat hulle in die omgewing van die strandmeer se kant bespied het. Opvallend in hul drag was hul petjies elkeen in ’n ander kleur – wit, blou, rooi en swart.

Van die aanvallers het ook sulke petjies gedra.

Nadat die vier mans toegang tot die huis verkry het, is twee na die boonste verdieping en het twee op die grondvloer gebly. Die Koreaan (sy naam word weerhou) is blykbaar in een van die Oosterse vegkunste opgelei.

Hy is blykbaar in die konstruksiebedryf by die bou van ’n groter Walvisbaaise hawe betrokke. Toe hy hom met die swaar houtswaard verset het, het die drie skote deur die buurt weergalm.

Die swaard is ’n gewigtige wapen en ná een voltreffer daarmee en ná die drie skote het die aanvallers op die vlug geslaan. Hul enigste buit was ’n skootrekenaar en ’n duur selfoon.

’n Buurman, mnr. Dean Theisinger, het die skote gehoor en ondersoek gaan instel. So laat in die aand was hy nie seker waarvandaan dit gekom het nie.

Nadat hy die derde skoot hoor val het, het hy met die buurtwag geskakel en self uitgegaan en in sy motor ’n paar draaie in die buurt gery op soek na die aanvallers en die plek van die aanval.

By die betrokke huis het hy iemand sien staan wat blykbaar net daarna om ’n hoekie weggeglip het. Hy meen sy soekery per motor het sowat ’n kwartier geduur en toe hy teruggekom het, was die aanval verby.

Theisinger is een van die inwoners van die buurt wat die vier mans met die petjies voor die aanval in die omgewing sien dwaal het.

Die Koreaan se vrou en dogter het skok opgedoen, maar is nie in die aanval beseer nie. Sondagaand het die gesin van drie op ’n ander plek gaan slaap, maar gister sou hulle terugtrek nadat sekuriteit verskerp was.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.