Die president van die Europese Sentrale Bank (ESB), Mario Draghi, meen Griekeland kan wel die €3,5 miljard terugbetaal wat hy die bank skuld.
Die ESB het vroeër meer geld vir Griekse banke beskikbaar gestel om te keer dat hulle ondergaan.
Die Griekse banke het Maandag weer hul deure geopen nadat hulle hul deure vir drie weke moes sluit. Die land se effektebeurs bly egter steeds gesluit.
Volgens nuusagentskappe word lang toue by banke ondervind waar slegs 420 Euros weekliks gestrek kan word.
Griekeland het intussen €4,2 miljard aan die Europese Sentrale Bank terugbetaal nadat hy tydelike finansiering gekry het, terwyl ‘n groter reddingsboei onderhandel word.
Sonder die betaling sou die Sentrale Bank nie meer Griekse banke met kontantvloei kon bystaan nie. Griekeland het ook sowat €2 miljard aan die Internasionale Monetêre Fonds terug betaal.
Griekeland het aan die einde van verlede week finansiering van €7 miljard ontvang om sy dringendste skuld te betaal.
Verskeie besuinigingsmaatreëls het in Griekeland in werking getree. Belasting op Toegevoegde Waarde, BTW, op voedsel en vervoerdienste is ook van 13 na 23 persent verhoog.
Die besuinigingsmaatreëls is goedgekeur as deel van ‘n ooreenkoms met die land se krediteure.
Die oorbruggingslening van €7 miljard verseker onder meer dat Griekeland sy skuld sal kan betaal tot tyd en wyl die derde hulppakket onderteken is.
Dié hulppakket van tot €86 miljard kan wel beding word nadat die Griekse parlement al die voorwaardes goedgekeur het waarop die land se krediteure aangedring het.
Dit sluit in pensioenhervorming, hoër belastings, bestedingsperke, die onafhanklikheid van die land se statistieke-instelling en meer.
Altesame 229 uit die 300 parlementslede (meer as 76%) het ten gunste van die hervormings gestem ná ’n debat wat tot ná middernag geduur het. 32 Syriza-lede het nee gestem en nog 6 het buite stemming gebly.
Die Grieke het vroeër in ‘n algemene referendum téén besuiniging gestem.
Intussen het dr. Angela Merkel, Duitse kanselier, steun begin monster onder haar partylede en koalisievennote vir die hulppakket. Die Duitse parlement moes dit Vrydag goedkeur, nes ander lande in die eurogebied wat daartoe bydra.
Wolfgang Schäuble, Duitse minister van finansies, het Woensdag in ’n radio-onderhoud voorgestel dat Griekeland tog tydelik die eurogebied verlaat omdat dit die afskrywing van skuld moontlik sal maak. Dit is ingevolge eurogebiedreëls nie moontlik nie.