Etniese konflik het weer kop uitgesteek in Limpopo. Die pad tussen Thohoyandou en Louis Trichardt in Limpopo is steeds gesluit weens ‘n gewelddadige betoging deur inwoners van dorpe in die Vuwani-gebied.
Inwoners versper die paaie na Thohoyandou, Vuwani en Malamulele met klippe en rommel.
Gemeenskapslede het die naweek ook vyf huise afgebrand. Hulle beskuldig die eienaars van die huise van moord. Dit volg nadat die liggaam van ‘n man verlede week in Lwamondo gevind is, na ‘n beweerde rituele-moord.
Die moord hou glo verband met die munisipale afbakeningsraad se besluit om dele van Vuwani en Malamulele saam te voeg om ‘n nuwe munisipaliteit te vorm, terwyl Tsongas daarteen gekant is.
Motoriste word aangeraai om eerder alternatiewe roetes te gebruik.
Dienste in die gebied is gestaak en onderrig by skole word ontwrig. Honderde pendelaars en motoriste is gestrand weens die paaie wat versper word.
Verkeer op die N2 by Borchards Quarry in die Wes-Kaap is vir die soveelste keer ontwrig nadat oproermakers Sondagaand die pad met rommel en brandende bande versper het.
Die pad is Maandag weer oopgestel vir verkeer en die polisie patrolleer die gebied.
Kaapstad se uitvoerende direkteur vir Veiligheid, Richard Bosman sê inwoners van informele woonbuurte in Nyanga is ontevrede met dienslewering in die gebied.