Is ‘n liberale demokrasie moontlik in Afrika?

Deel op

Image15:30:55 Vanjaar is die sestigste jaar van onvrede in Afrika waarin miljoene mense sedert die Tweede Wêreldoorlog in die haglikste omstandighede in Afrika gesterf het.

Waarom?

Deel op

Tydens 'n besoek aan die London School of Economics (LSE) het akademici die standpunt gehuldig dat etnisiteit vir Afrika se ellendes verantwoordelik is. Dit is as rede aangevoer waarom inheemse tale moes verdwyn en deur Engels as lingua franca vir nasiebouprogramme vervang moes word. Volgens hulle manifesteer rassisme, wat as die groot euwel van vandag se wêreld beskou word, ook in die vorm van etnisiteit.

Die LSE-akademici het beweer dat, voordat vrede en harmonie in Afrika bereik sou word, multikulturele samelewings mettertyd in nuwe gewade geplooi sal móét word, ongeag die etniese – of rassesamestelling van gemeenskappe.  

Hul teorie vorm die basis van 'n liberalistiese siening wat individualiteit bo kommunaliteit stel om as sosiale en regsnorm te dien. Dit verskaf die onderbou vir nasiestate gedurende die moderne era.  

Hulle beweer dat kommunaliteit en gemeenskapsregte by etniese gemeenskappe as 'n oudmodiese en gevaarlike praktyk beskou moet word. Individuele regte kan dit beter as beskawingsnorm hanteer.

Liberalisme wat op 'n regsbasis gefundeer is, veronderstel dat elke individu sy eie persoonlike stel belange en doelwitte het. Die liberalisme is op soek na 'n neutrale regsraamwerk wat aan elke individu 'n gelyke kans sal bied, sodat hy as 'n vrye morele entiteit mag optree.

Voorstanders van dié ideologie argumenteer verder ook dat 'n persoon se waarde nie aan sy verwantskap met ander persone of gemeenskappe gemeet kan word nie, maar aan die keuses wat hy uitoefen. Die uitbreiding van individuele menseregte soos anti-diskriminerende maatreëls, word deur die internasionale liberale gemeenskap as vooruitgang beskou. Volgens hierdie maatreëls moet omlynings van gemeenskappe verdwyn.  

Maar 'n Wêreldbankverslag beweer die teendeel.  In hul belangwekkende verslag vra Ibrahim Elbadawi en Nicholas Sambanis die vraag: "Waarom is daar so baie burgeroorloë in Afrika?" Die verslag ontleed gewelddadige konflik sodat burgeroorloë beter verstaan kan word en metodes gevind kan word om daardie konflikte te voorkom.

Die Wêreldbankverslag bevind dat Afrika se burgeroorloë nie aan sy etniese of religieuse diversiteit te wyte is nie, maar aan ander oorsake. Hulle betwis dus die LSE se siening en verskaf wetenskaplike gegewens om hul bevindings te staaf.   

Die verslag bevind onder meer dat 'n gebrek aan toegang tot natuurlike hulpbronne spanning binne nasiestate skep wat die basis vir burgeroorloë vorm. Met behulp van onlangs geformuleerde modelle maak hulle 'n ontleding van burgeroorloë in 161 lande gedurende die tydperk 1960 – 1999. Daarmee bewys hulle dat die hoër voorkoms van burgeroorloë in Afrika nie aan die etno-linguïstiese fragmentasie van Afrikalande te wyte is nie, maar eerder aan die voorkoms van armoede, afhanklikheid van natuurlike hulpbronne en mislukte politieke stelsels.  

Armoede skep onrus; afhanklikheid van hulpbronne skep mededinging daarvoor en mislukte politieke stelsels verskaf die morele vonk wat burgeroorloë laat ontketen. Hoewel dit gewoonlik inwoners van 'n bepaalde stam of gebied is wat gemobiliseer word om vir oorlewing in opstand te kom, hou etnisiteit as sulks geen kousale verband daarmee nie.

Die verslag beweer verder dat etniese diversiteit die prosesse vir intergroeponderhandeling juis bevorder en dus politieke stabiliteit aanhelp eerder as benadeel. Hierdie prosesse verloop gewoonlik vreedsaam as etniese groepe voel dat hulle voldoende politieke verteenwoordiging geniet en wanneer die ekonomie 'n regverdige geleentheid vir produktiewe ekonomiese aktiwiteit bied.  

Op die oog af klink dit na 'n heeltemal logiese formule vir vrede, naamlik voldoende politieke verteenwoordiging, gepaardgaande met voldoende ekonomiese betrokkenheid om 'n bestaan te kan maak.  

Die afleiding kan dus gemaak word dat sou hierdie kernbevinding binne 'n staatkundige model toegepas kon word, daar vrede en voorspoed op die vasteland sou kon heers, mits daar nie konflik op ekonomiese gebied sou plaasvind nie.

Maar dit klink veels te Verwoerdiaans om in die praktyk toe te pas. Die Suid-Afrikaanse situasie ná 1994 druis byvoorbeeld reëlreg daarteen in. Regstellende aksie, transformasie, SEB, ens., slaag daarin om die Afrikanerminderheid van die land se hulpbronne te weerhou. Dit skep presies dieselfde spanning as wanneer een Kongolese stam verhoed word om water uit 'n rivier te gebruik, vis te vang, hout te kap of hul beeste te laat wei.

Dit is aksiomaties dat hoe wyer 'n gebied om heterogene gemeenskappe getrek word, hoe meer etniese groepe word by die gebied ingesluit en hoe kleiner is die politieke verteenwoordiging van die verskillende gemeenskappe daarbinne.  

Deur Pretoria se munisipale grense byvoorbeeld tot ver buite Gauteng se grense te trek, waardeur getalryker aangrensende etniese gemeenskappe by Pretoria ingesluit word, word politieke verteenwoordiging vir Pretoria se belastingbetalers grootliks afgewater en het hulle gevolglik geen seggenskap meer in munisipale sake wat hulle ten nouste raak nie.  Dan word stadsburgers deur vreemdelinge van buite bedien. Selfs Mamelodi lê nie binne die Pretoriadistrik nie, maar is deel van die aangrensende Cullinandistrik.

Onder die vaandel van die liberale demokrasie kan daardie vreemdelinge die stad se ware meerderheid, naamlik Pretoria se Afrikaners, se historiese erfenisse soos straatname na hartelus vernietig. Vir die werklike stadsmeerderheid bestaan daar geen alternatiewe institusionele kanale waardeur hul eie sake bevorder kan word nie en word die aandrang op sodanige strukture as isolasionisties, polities onkorrek en 'n hunkering na apartheid beskou.  

Wat in Pretoria gebeur, is die norm regoor Afrika, en verklaar waarom die vasteland so sukkel om van homself bevry te word.  Dit is waarom die vasteland se regerings nie staatkundig kan vorder nie.

Die liberale demokrasie in 'n nasiestaat is dus 'n probleem vir Afrikalande met heterogene kultuurgemeenskappe, tensy 'n verdieping van die demokrasie doelbewus nagestreef word. Bevolkings as geheel het hul selfbeskikking by onafhanklikheid ontvang, maar vir kleiner volke binne die oud-kolonies was die werklikheid anders.  

Die logiese uitvloeisel van 'n liberale demokrasie in Afrika is dat slegs die grootste groepe op selfbeskikking aanspraak kan maak terwyl die kleiner volke se belange en aspirasies ondergeploeg word. Sou hulle daarteen beswaar maak, word hul besware as "rassisties" of "hunkering na die goeie ou dae" beskryf. Sulke gefrustreerde gemeenskappe word dan onstabiele gemeenskappe.

Is daar nog iemand wat glo dat die tuislandgemeenskappe vandag beter daaraan toe is sonder die selfbeskikking wat hulle voor 1994 gehad het? Is hulle gelukkig met hul huidige situasie? Gaan hulle dit nog veel langer aanvaar? Presies dieselfde geld vir die res van Afrika, waar kleiner volkies hul selfseggenskap heeltemal ontsê word.  

Om op 'n liberalistiese begrip soos nie-rassigheid en die hoop op 'n gedeëtnifiseerde bevolking as 'n resep vir langdurige vrede binne 'n veelrassige land te steun, is nie slegs naïef nie, maar ook uiters gevaarlik.  

Dit stuur die land onherroeplik nader aan die afgrond van rasse- en etniese spanning. Deur gemeenskappe se groepsregte te erken en te beskerm en om respek tussen groepe te bevorder, het die land 'n veel beter kans op vrede as 'n kunsmatige deëtnifiseringsproses wat almal deur 'n worsmasjien wil stuur. Hierdie stelling is veral van toepassing tussen die swart etniese groepe van die land.

In artikel 234 van die land se grondwet word voorsiening gemaak vir die formulering en instelling van sodanige groepsregte, juis om potensiële spannings tussen groepe te ontlont en om die demokrasie te verdiep. Die kommissie vir die beskerming van die regte van taal, kultuur en godsdiensgemeenskappe het volgens artikel 185 van die grondwet die opdrag om sodanige regte te identifiseer en te omskryf. Die kommissie, wat in 2002 gepromulgeer is en wat baie miljoene rande gekos het, het egter nog geen gemeenskapsregte geïdentifiseer wat hy moet beskerm nie.

Die tyd het nou aangebreek vir Afrikaners, wat hulself as 'n kultuurgemeenskap beskou, om op die beskerming van hul kultuurregte aan te dring en om hul gemeenskapsregte formeel op te eis. Daardie regte sluit in die regte op die behoud van hul erfenisgoedere soos monumente, straatname, dorpsname, moedertaalonderrig, skoolkurrikulering, ens. Vandag is Afrikaners op hulself aangewese om hul lot self te bepaal; die regering kan dit nie meer vir hulle doen nie.

roulette games noФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.