‘n Tweede verdagte sal binnekort in die hof verskyn nadat hy gister in hegtenis geneem is in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas by Vrede, Sondag.
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Sam Makhele, sê ‘n 30-jarige man het homself gister op Vrede oorgegee nadat die polisie warm op sy spoor was. Die polisie het ook op ‘n vuurwapen beslag gelê.
Johannes en Rita Kritzinger het Sondag van die kerk op die dorp teruggekeer toe hulle deur twee gewapende mans ingewag is. Hulle het verskeie skietwonde opgedoen.
Intussen het die 39-jarige Paul May Zulu, wat kort na die voorval in hegtenis geneem is, gister in die plaaslike hof op aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof verskyn.
Die saak is uitgestel tot Maandag wanneer hy na verwagting om regshulp aansoek sal doen. Hy is ‘n oudwerknemer van die Kritzingers.