IMF kritiseer Eurosone-hulppakket aan Grieke

Deel op

Die Internasionale Monetêre Fonds het die voorwaardes van die finansiële reddingspakket deur die Eurosone aan Griekeland skerp gekritiseer omdat hulle meen die land se skuld sal waarskynlik binne die volgende twee jaar twee keer soveel as die nasionale inkomste styg.

Die IMF sê ook dat die Eurosone nou veel verder sal moet gaan om Griekeland se skuldprobleem voldoende aan te spreek.

Die organisasie is ook krities oor die hervormingsmaatreëls wat op Griekeland afgedwing word en het dit as onrealisties en onvoldoende afgemaak.

Die Griekse parlement het intussen die nuutste maatreëls aanvaar om in aanmerking te kom vir die derde hulppakket.

Van die 300 parlementslede het 229 ten gunste van die besuinigingsmaatreëls gestem, terwyl 64 daarteen gestem en ses buite stemming gebly het.

Die eerste minister, Alexis Tsipras het opposisielede se stemme nodig gehad om die hervormings deur te voer terwyl verskeie lede van sy kabinet teen die voorstelle gestem het.

Van die hervormingsmaatreëls wat die parlement moes aanvaar sluit in pensioenaanpassings, verhogings in belasting op toegevoegde waarde en beperkings op staatsbesteding.

Tsipras het voor die stemmery oor die maatreëls gesê daar is geen alternatief indien Griekeland ‘n algehele finansiële ineenstorting wil voorkom nie.

Die Europese Kommissie het amptelik voorgestel dat `n korttermyn-lening van meer as R90 miljard aan Griekeland gegee word totdat die reddingsboei van die Eurogebied gefinaliseer is.

Dit sal betaal word uit `n fonds waartoe al die 28 lidlande van die Europese Unie bydrae.

Die voorstel is met heftige teenkanting begroet van die lande wat nie die Euro gebruik nie. Lande soos Brittanje, Denemarke, die Tsjeggiese Republiek en ander wat nie deel van die Eurogebied is nie, sê hulle weier om te betaal vir die probleme wat by die Eurogebied hoort.

Die Kommissie sê hy sal wyses probeer vind sodat die EU-lidlande buite die Eurogebied nie waarborge oor die volgende paar weke hoef te verskaf nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.