Tsjad: Meer chaos in die vooruitsig

Deel op

Dis met verwondering dat ‘n mens lees dat Tsjad, net soos Soedan, nie ‘n demokrasie is nie en daarom ‘n rebelle-inval nodig het uit die geweldgeteisterde Soedan waar die soveelste volksmoord van die kontinent tans plaasvind. In dié trant skryf Desmond Tompson onlangs in Beeld dat daar by monde van ‘n kenner skynbaar "legitieme weerstand" teen die regering van Tsjad aan die opbou is.

Deel op
Die verkiesing wat in dié land voorsien is en wat binne die volgende week of twee plaasvind, gaan deur die opposisie geboikot word. Dus stel die "legitieme" kritici van President Idriss Déby nie veel in demokratiese prosesse belang om die veelbeprese demokrasie na te streef nie.

Indien "legitieme weerstand" volgens Desmond Thompson se definisie militêre ondersteuning uit ‘n buurland insluit, is daar seker hoop vir Jacob Zuma want met die nodige samewerking vanuit Zimbabwe mag hy dalk net SA se volgende president word…

‘n Ooggetuie van die VN se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge, Ana Liria-Franch, beweer volgens ‘n berig van AFP dat die FUC-rebelle die vlugtelingkampe in Tsjad terroriseer om volgelinge onder dwang en deur afpersing te rekruteer. Die rebelle wil die ongewilde president – wat die grondwet van sy land verander het om aan te bly – met vlugtelinghulp en omkoopgeld verwilder.

Dit is onder sulke omstandighede te begrype dat die internasionaal erkende President Déby nie juis te vinde is vir kampe wat die rebellebeweging se getalle bly aanvul nie. Desmond Thompson suggereer nietemin dat Déby se anti-demokratiese ingesteldheid hom daartoe noop, asof hy self die vlugtelingkampe ter wille van sy eie ondergang ontgin.

Indien die Wêreldbank nie intussen Déby se fondse afgesny het nie, sou hy waarskynlik ook nie so ongewild geraak het nie. Van Déby se hoë weermagoffisiere het in ruil vir soldy na die opposisie oorgeloop.

Dié belangrike verwikkelinge word nie in Thompson se artikel genoem nie. Die "internasionale gemeenskap" waarna hy verwys sou kon baat by ‘n paar feite ipv nog ‘n dosis manipulasie.

Die Franse bevind hulself tans in ‘n uiters delikate posisie in Tsjad omdat hulle agv ‘n verdedigingsooreenkoms (wat uit die sewentigerjare dateer), asook geostrategiese redes die toestand probeer stabiliseer. Alhoewel dit nie dieselfde as die ooreenkoms tussen die Ivoorkus en Frankryk is wat voorsiening vir militêre beskerming en dus outomatiese ingryping maak nie, is militêre bystand nogtans deel van wat ‘n politieke besluit deur Tsjad mag vereis.

‘n Gebrek aan leierskap in Frankryk verhoed die regering egter om die situasie behoorlik aan enige van die aantal belanghebbendes of die buitewêreld te kommunikeer. Die nuwe gegewe op ons kontinent het in sekere Franse politieke kringe in gebreke gebly om as belangrike kwessie te figureer en Afrikapolitiek word steeds in ‘n waas van geheimhouding bedryf.

Behalwe die skaduagtige wyse waarop Afrika benader is, was dit ook merendeels die werk van een man, Jacques Foccart. Sy afsterwe het blykbaar ‘n groter leemte gelaat as wat vermoed kon word. (Lees meer omtrent sy sukses in die Afrikalande waar Frankryk hul invloed voorheen kon laat geld het.)

‘n Groot vraagteken hang opnuut oor die idee van ‘n eie vredesmag vir Afrika. Selfs Le Monde [Hoofartikel 17.04.2006] neem die Franse Mirage wat waarskuwingsskote op die aankomende rebelle geskiet het, kwalik. Die Franse sou tot onlangs nog die voorbeeld vir Europese betrokkenheid op die vasteland stel deur die vestiging van ‘n militêre mag vir die AU.

Die rebelle se naderende invalsposisies is tewens uur vir uur aan Tsjad se weermag gekommunikeer. Die amptelike standpunt van die EU is dat verdediging en vredesintervensies deur die AU oorgeneem en bestuur behoort te word. Kennelik steur die Epervier-sending hulle nie veel aan allerlei amptelike standpunte oor militêre betrokkenheid in Afrika nie of hulle besef dalk dat dié mooi woorde nie met die werklikheid tred kan hou nie.

Die rebelle-segsman in Parys, Laona Gong, het sy spyt uitgespreek dat Frankryk die dorpe Adré en Moudina in Tsjad, naby die Soedanese grens, uit die lug "aangeval" het en dat daar "’n aansienlike getal burgerlikes omgekom het". Op die vraag hoeveel ongeveer het Gong egter geantwoord dat hy geen idee het nie. Dit maak dit natuurlik effens moeilik om te verwag dat Frankryk binnekort tot enige sinvolle gesprek met Déby se teenstanders sal toetree.

Die teenwoordigheid van 1 350 Franse soldate, ses Mirage-vegvliegtuie en 3 helikopters wat probeer vrede handhaaf terwyl die druk toeneem is ‘n ondankbare taak. Sonder die Franse teenwoordigheid gaan die land waarskynlik in twee verdeel word soos onlangs in die Ivoorkus gebeur het, tussen Moslems in die noorde en Christene in die suide. Dié ou etniese verdelingslyne sal dan sorg dat die spanning vererger.

Die grootste bedreiging kom weliswaar uit Soedan. Die rekening vir die splinternuwe Toyota’s waarmee die rebelle hul intog gemaak het is deur daardie land vereffen. Net soos in SA is die vele kritici waarskynlik nie soseer begaan oor al die tierlantyntjies van ‘n grondwet, demokrasie of wet en orde as met wie die staatskas mag plunder nie.

Wat seker is, is dat meer wanorde nie aan die broeiende chaos van 50 000 dooies en 200 000 vlugtelinge gaan remedieer nie. Veral nie op die kontinent wat ons onlangs weer ‘n renaissance belowe het nie.

often shouldлобановский александр досье

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.