Europese leiers het ‘n ooreenkoms met Griekeland bereik vir ‘n derde reddingsboei in ‘n poging om die land in die euro-gebied te hou.
Die nuwe maatreëls wat ingestel is kan egter lei tot die val die linksgesinde regering van Alexis Tsipras.
EU-leiers het eenparig besluit op ‘n Europese Stabiliseringsmeganisme vir Griekeland wat teen Woensdag sekere maatreëls deur sy parlement moet voer en duidelike tydsraamwerke vir hervormings moet voorlê.
Die ooreenkoms behels onder meer dat die Griekse parlement teen Woensdag hoër beslasting hef, pensioene verminder en nuwe indiensneming-wetgewing instel.
Eurosoneleiers het vroeër deur die nag in Brussel, België, beraadslaag in ‘n poging om ‘n kompromis te vind om te keer dat Griekeland se geldvoorraad opdroog.
Die Griekse regering is tot Woensdag tyd gegee om nuwe wetgewing deur te voer as voorwaarde vir verdere onderhandelinge oor ’n nuwe hulppakket wat die land nodig het.
Die noodberaad is ure lank onderbreek vir samesprekings tussen die Griekse eerste minister, Alexis Tsipras, die Duitse kanselier, Angela Merkel, Frankryk se president Francois Hollande en die president van die Europese Raad, Donald Tusk.
Tsipras het intussen met sy kabinet in Athene vergader om die nuwe besuinigingsmaatreëls te bespreek waaroor die Europese Unie ooreengekom het in ruil vir die reddingsboei.
Volgens berigte is ondersteuners van die Griekse premier woedend dat Griekeland die knie voor Duitsland se vereistes gebuig het.
Die ooreenkoms is met gemengde reaksie deur die res van die land begroet, met die staatsdienswerkersvakbond wat ‘n 24-uur staking afgekondig het.