Die president van Cosatu, Sidumo Dlamini het ‘n beroep op afgevaardigdes by die Spesiale Nasionale Kongres in Midrand gedoen onopgeloste kwessies met omsigtigheid te benader.
Die tweedaagse kongres het laat Maandagaand verdaag nadat die netelige kwessies van akkreditasie en die sakelys ná ure-lange debat afgehandel is.
Sommige vakbonde wat simpatiek staan teenoor die geskorste hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi het egter die kongres vroeg verlaat.
Hulle het aan verslaggewers gesê dat hulle nie glo die kongres enigsins vrugbaar sal wees nie. Die Vavi- en Numsa-faksie is op die gebied van akkreditasie en agenda met stemme verslaan.
Cosatu se spesiale nasionale kongres het die sakelys vir die kongres aanvaar en sal dit vandag bekend maak.
Die uitslag van die stemmery is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie bekend gemaak.
Vakbonde wat NUMSA en Zwelinzima Vavi simpatiek gesind is, wou nie die akkreditasie aanvaar totdat die nuwe metaalwerkersvakbond LIMUSA en tweede adjunkpresident, Zingiswa Losi daarvan uitgesluit is nie.
Verrigtinge hervat om nege-uur vanoggend.
Die adjunk-hoofsekretaris van Numsa, Karl Cloete, het dié vakbond se kommer uitgespreek oor, wat hy genoem het, die militarisering van Cosatu se spesiale nasionale kongres in Midrand.
Hy het aan die media gesê Numsa se leierskorps het verneem Cosatu beplan om met geweld teen afgevaardigdes van die agt rebelle-vakbonde op te tree.
Dié vakbonde, wat Numsa en die geskorste hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi, steun, wou die Numsa- en Vavi-kwessies op die kongres se agenda plaas sodat hulle skorsings opgehef en hulle na die vakverbond kan terugkeer.