Karel Combrinck: Heel gek

Deel op

In die politieke gesprek van die dag, as ‘n mens dit ‘n gesprek kan noem, word beweer dat dit gaan om ‘n tweestryd tussen links en regs. Die linkses, wat die botoon voer in die media, eien hulle die alleenreg toe om die waarheid te spreek en matig hulle aan om voor te skryf wat aanvaarbaar is en wat nie. Enigeen wat nie met hulle saamstem nie, is gewoon «verregs».

Veel nader aan die waarheid is dat dit eerder gaan om ‘n tweestryd tussen behoudendes, rasioneles en welskapenes aan die een kant en rasendes en geestesversteurdes aan die ander kant.

Pas het ons die jong opskuddinkie gehad or die rasende «akademikus» van Stellenbosch, Anton van Niekerk, wat almal wat nie saamjil in die koor van die rasendes nie, gewoon in dieselfde mandjie gooi as Dylann Storm Roof, of wat sy naam ook al is. Watter mens by sy volle positiewe sal Storm Roof beskou as ‘n behoudende of ‘n rasionele? En watter mens by sy volle positiewe kan Anton van Niekerk, of Antjie Krog of Max du Preez as rasioneel beskou?

Terloops, van rasendes gepraat, wat het geword van die vroumens Anna-Hilge van Huyssteen, wat Engels gedoseer het, of nog doseer, aan die Universiteit van Stellenbosch en die verskriklikste dinge omtrent Afrikaners kwytgeraak het? Waarskynlik word sy in die huidige klimaat op Stellenbosch nie eers meer opgemerk nie; heeltemal gesigloos teen die agtergrond van die linksradikale waansin wat die toneel aan hierdie eens trotse universiteit oorheers.

Feit is dat Storm Roof duidelik geestelik versteurd is en deurdat Anton van Niekerk behoudende mense, wat hy as «verregs» beskou, in dieselfde kraal plaas as Storm Roof bewys dat hy in ‘n sin so gek is soos Roof self. Inderdaad is dit so dat mense soos Anton van Niekerk en Storm Roof mekaar nodig het. As Storm Roof nie bestaan het nie, sou Anton van Niekerk hom ontwerp het. Hulle kan nie sonder mekaar bestaan nie, soos sy onlangse rubriek Hou oog op die regse radikale ook treffend en illustreer.

Hierdie storie van «verregs» is net nog ‘n manifestasie van wat in die leuenagtige politiek korrekte semantiek aan ons verkondig word. Om linksliberaal, irrasioneel, rasend te wees, is politiek korrek en om behoudend, beredeneerd en rasioneel te wees, is «verregs». Ek wil glo dat ons hier op Praag hoegenaamnd nie ultra dit of ultra dat is nie, maar behoudend, beredeneerd en rasioneel. In elk geval is dit die posisie ten opsigte van die redaksie en meeste van die kommentators.

Soos elders gewaarsku, moet ons nie toelaat dat linksradikale rasendes soos Anton van Niekerk ons in ‘n ideogiese hoek verf nie. Ons is nie in dieselfde waansinnige kamp as Storm Roof nie en het met hom en diesulkes niks te make nie. Byna net so min te make as met Anton van Niekerk self.

Maar om ten slotte heel padlangs te praat oor Anton van Niekerk se gekheid : Onthou tog net waar hy werk en vir wie hy werk. Soos Wim de Villiers sou hy nie daar gewees het waar hy is as hy nie sy ANC-meesters en hulle ideologie klakkeloos na die mond gepraat het nie en hy sou ook nie daar kon bly as hy hulle nie gedienstig was nie. Dus is daar dus tog ‘n soort rasionaliteit in sy waansin: Die rasionaliteit van eiebelang. Wiens brood men eet, diens woord men spreekt .

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.