Die Passasier-spooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sê hy is baie tevrede met sy hoofingenieur, dr. Daniel Mtimkulu, al is hy nie amptelik as ingenieur geregistreer nie.
Netwerk24 het gister onthul dat Mtimkulu nie by die Ingenieursraad van Suid-Afrika geregistreer is nie.
Ingevolge wetgewing moet ingenieurs wat vir die staat werk, by die raad geregistreer wees.
Die Vryheidsfront Plus gaan ook die Staatsdienskommissie versoek om ondersoek in te stel na die geldigheid van die kwalifikasies van Mtimkulu.
Mtimkulu beweer hy het ’n ingenieursgraad by die Universiteit van die Witwatersrand en ’n doktorsgraad in Duitsland behaal, maar Wits se registrasiekantoor kon geen rekord van hom as student opspoor nie.
Mtimkulu, die hoof van ingenieursdienste by Prasa, is aangedui as die ontwerper van die Afro 4000-lokomotiewe wat as ongeskik vir Suid-Afrikaanse infrastruktuur verklaar is. Hy het die foutiewe aankope op ‘n perskonferensie verdedig.
Die hoogte van die treine is nie geskik vir Suid-Afrikaanse spore nie, omdat hulle 4.264m hoog is terwyl die nasionale limiet 3.965m is.
By dieselfde perskonferensie het Prasahoof Lucky Montana gesê dat die bohaai te danke is aan ‘n rassismeveldtog teen Mtimkulu, wat as onbevoeg voorgehou word omdat hy swart is.
Hy het gesê Prasa-werknemers word uitgebeeld “as ‘n klomp onbevoegdes [en] dit is waarskynlik ‘n rassekwessie”.