Prins Harry het dié week ’n hamburger as wegneemete by ’n eetplek op Mariental bestel.
Dit lyk asof sy Britse raadgewers skielik skarrel om redes vir sy besoek aan te dik, nadat hy in Namibië opgemerk is.
Sy toergroep het met ’n wit LandCruiser met ’n Gautengse registrasiemerk gereis. Niemand mag foto’s van die koninklike neem nie.
“Hy was saam met vier mans en ’n Suid-Afrikaner daar,” het die bestuurder, mnr. Stefan Nel, aan Marzanne Schoeman, ’n kadetverslaggewer van Republikein gesê.
“Prins Harry het ’n wit hemp, donker kakiebroek en lekker vellies aangehad. Hy is ’n oulike ou, baie plat op die aarde en het grappies met die mense gemaak.”
Volgens Nel was prins Harry omstreeks 17:30 in die eetplek.
Prins Harry is glo “in die Suide” saam met die ministerie van die omgewing en toerisme vir navorsingsdoeleindes.
Hy het ook ’n besoek aan die Red die Renosterfonds (SRT) gebring, asook die Woestynleeu Navorsingsprojek van dr. Flip Stander om meer van die verskillende projekte uit te vind.
Die Woestynleeu Navorsingsprojek het nogal die woestynleeumannetjie, Xpl-94, The Prince gedoop. Die dier is met ’n nuwe satellietnekband toegerus. The Prince is die welpie van die leeuwyfie Nina (Xpl-49).
Dr. Pete Morkel is glo die befaamde veearts saam met wie prins Harry reis.
“Die Woestynleeu Navorsingsprojek bedank dr. Pete Morkel, Tommy Hall en die SRT vir hul hulp,” is op die webtuiste te sien.
’n Betroubare bron wat teenwoordig was, beskryf ook die prins as “baie aangenaam en plat op die aarde”.
Prins Harry het glo verlede Woensdagaand met ’n vlug van Air Namibia, ekonomiese klas, in Namibië aangekom, is op Twitter getwiet. Dit dui daarop dat sy besoek geheim moes wees.
Verlede Donderdagoggend het die prins inkopies op Omaruru gedoen waar mee. Hanni Griebel en Edna Botha koninklike handdrukke van hom gekry het en die aap uit die mou gelaat het.