Regters bekommerd oor ANC-bewind hofbevele ignoreer, regters kritiseer

Deel op

IN AN unprecedented show of force, 27 of SA’s most senior judges, led by Chief Justice Mogoeng Mogoeng, on Wednesday responded to a slew of criticism by politicians, saying they wanted to discuss “the dangers of the repeated and unfounded criticism” of the judiciary with President Jacob Zuma.

27 van Suid-Afrika se mees senior regters het gister onder leiding van die hoofregter, Mogoeng Mogoeng, gereageer op die kritiek wat ANC-ampsdraers op die regbank uitspreek deur te sê dat hulle “die gevare van herhaalde en ongegronde kritiek” met president Jacob Zuma wil bespreek.

Oor die afgelope weke het die ANC gereeld teen regters uitgevaar. Onder andere het sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, gesê “dele van die regbank chaos vir die regering wil skep” en het die regbanke in Pretoria en Kaapstad genoem.

Tydens ‘n spitsberaad van die drieledige alliansie van die Kommunisteparty, Cosatu en die ANC is ‘n verklaring uitgereik waarin beweer word dat “sekere streke en regters konsekwent teen die staat bevind”.

Dié verklaring is uitgereik nadat die Pretoriase Hooggeregshof ‘n bevel uitgereik het wat die staat beveel om die Soedannese president Omar al-Basjir in hegtenis te neem, ‘n bevel wat deur die staat geïgnoreer is.

Ondersteun deur sy adjunkte, het regter Mogoeng gesê dat die regbank die inwoners van Suid-Afrika, asook die res van die wêreld, wil verseker dat hulle steeds die verpligting sal nakom om aan die Grondwet en hul ampsede uitvoering te gee. “Vir regters is dié verpligting en die eed heilig,” het hy gesê.

Mogoeng het gesê dat regters ontvanklik vir opbouende kritiek behoort te wees. Maar sodanige kritiek moet billik en ter goedertrou uitgespreek word. Dit moet ook “spesifiek en helder” wees. “Algemene, ongegronde kritiek is nie aanvaarbaar nie,” meen die hoofregter. “Ons kan nie voorgee dat daar niks gesê is nie.”

Die suggestie dat regters in sekere sake “deur ander voorgesê is om ‘n voorafbepaalde beslissing te vel… is iets wat ons verwerp,” het Mogoeng voortgegaan. Dit is blykbaar ‘n verwysing na ‘n beskuldiging deur die minister van polisie, Nathi Nhleko, wat aan senior ondersoekers van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat gesê het dat “sekere elemente van die regbank met karakters ontmoet om sekere uitsprake te bewerkstellig”.

Volgens Mogoeng word hofbevele “in die reël” deur organe van die staat gehoorsaam. Maar die “enkele gevalle” waar hulle nie gehoorsaam is nie, “ondermyn die regstaat”.

Hy het herhaal wat die Gautengse regterpresident Dunstan Mlambo in die Bashir-uitspraak gesê het: die regstaat is die hoeksteen van grondwetlike demokrasie.

“As inwoners van die land, sou dit gevaarlik wees om dit te ignoreer,” het Mogoeng gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.