Nigerië gaan gebuk onder vlaag van bomaanvalle

Deel op

Nigerië se nasionale noodbestuursagentskap het Maandag bekendgemaak dat minstens 44 mense dood en 47 beseer is toe twee bomme by onderskeidelik ‘n inkopiesentrum en gewilde moskee in die stad, Jos ontplof het.

Niemand het onmiddellik aanspreeklikheid vir die voorvalle aanvaar nie, maar die godsdiens-verdeelde stad, Jos, is voorheen ook deur Islamitiese militante geteiken, het AFP berig.

Die Plateau-staat, waarvan Jos die hoofstad is, lê op die skeidslyn van Nigerië se hoofsaaklik Christelike suide en Moslem noorde, en het die afgelope dekade golwe van sektariese geweld ervaar wat duisende menselewens geëis het.

Boko Haram het sy aanvalle in die noorde van Nigerië sedert die inhuldiging van pres. Muhammadu Buhari op 29 Mei verskerp met verskeie aanvalle, ontploffings en selfmoordbomaanvalle wat uitgevoer is.

Met die jongste sterftes staan die dodetal nou reeds op meer as 500 mense.

Sondag het ‘n selfmoordbomaanvaller haar binne ‘n kerk in die stad, Potiskum, in die Yobe-staat in die noordooste van Nigerië opgeblaas en vyf kerkgangers is in die aanval dood.

Verlede week het Islamitiese vegters ‘n aantal nedersettings in die omgewing van die Tsjad-meer aangeval en meer as 150 vermoor wat in moskees met gebede besig was.

‘n Jong vrou het haarself Woensdagnag naby ‘n moskee in Kano in Nigerië opgeblaas.

Die polisie sê haar teiken was vermoedelik die Umar al-Khattab-moskee. Niemand anders is dood of beseer nie.

Die militante groep Boko Haram het die afgelope ruk ‘n vlaag aanvalle in die gebied uitgevoer met minstens 250 mense wat omgekom het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.