Prins Harry in Omaruru opgemerk

Deel op

“Good morning, is it Prince Harry of England?”

So het die ontmoeting in die Spar-inkoopsentrum op Omaruru Donderdagoggend net voor die middaguur begin. ’n Paar stondes later het dit in ’n handdruk tussen Hanni Griebel van die sentrum en die koningskind oorgegaan. En ook Edna Botha het ’n handdruk gekry.

Die Engelse prins is met sy besoek aan die groot winkel op pad na die swartrenostervelde van Damaraland en Kaokoland eerste deur me. Edna Botha, ’n kleuterskoolonderwyseres, geïdentifiseer. Net om haar twyfel te verdryf, het sy haar vermoede met Hanni gedeel. En toe het die gesprek sonder woorde tussen Griebel en die prins begin.

In antwoord op Hanni Griebel se vraag het prins Harry net met sy voorvinger op sy mond bevestig, maar dit het ook as aanduiding gedien dat sy nie sy teenwoordigheid moet verklap nie.

“Dit het ’n verskriklike jammerte in my laat opgaan,” het Hanni aan Republikein gesê. “Ek het die jong man ontsettend jammer gekry omdat hy nie die vryheid kan geniet wat ons het nie.”

Hanni sê sy het op Harry afgestap nadat Edna Botha haar vermoedens aan haar oorgedra het.

Volgens haar was haar eerste reaksie toe sy by Harry gekom het, ook ’n vraag. “Kan ek my oë glo dat ek sien wat ek sien?” Daarop was daar geen reaksie van die prins nie.

Toe het sy hom sommer tromop geloop met die vraag of hy prins Harry van Engeland is.

Sy bevestiging op haar vraag was die wysvinger voor sy mond, maar die vingertaal was ook ’n aanduiding dat sy nie moet praat nie. Toe het sy die jong prins gevra of sy dan nie maar net ’n hand met hom kan skud nie. Toe druk hy sy sonbril op oor sy voorkop en gee haar die regterhand.

Harry het toe self tussen die rakke van die selfdienwinkel deurbeweeg. Weer het Hanni hom gevra of hy spesifiek iets soek. Weer was sy vingertaal ’n regterduim om aan te dui dat hy self regkom.

Volgens Hanni was Harry in ’n swart T-hempie met ’n olyfgroen veldbroek geklee.

Mnr. Bobby Giebel van die kompleks het ook bevestig dat die prins net voor die middaguur in die kompleks was. Hy was in geselskap van drie mans met ’n uitdruklike versoek van die groep dat foto’s nie geneem moet word nie. Foto’s sou ’n samedromming om die prins veroorsaak. Juis dit wou hulle nie gehad het nie. Die geselskap het in ’n Land Cruiser gery wat ooglopend ook vir ’n kamp- en veldlewe ingerig is. Die tuig is tussen ander voertuie op die parkeerplekke voor die winkel getrek.

Volgens die kassiere het die prins se aankope hoofsaaklik uit vrugtesappe bestaan.

Van Omaruru het die voertuig in die rigting van Uis in Damaraland beweeg.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.