Boere se kans kans om vermoor te word, 4 keer hoër

Deel op

Alhoewel die jongste syfers oor plaasmoorde en aanvalle vir die eerste ses maande van 2015 ‘n afname getoon het, is ‘n boer se kans om vermoor te word steeds vier keer hoër as enige ander Suid-Afrikaner s’n.

TLU SA het Donderdag tesame met Afriforum hul syfers vir die eerste ses maande van vanjaar in Centurion vrygestel.

Limpopo en KwaZulu-Natal, het met vyf moorde, die meeste geweld vanjaar getrotseer. Daar was vier moorde in die Vrystaat, vier in Gauteng, drie in die Oos-Kaap, twee in Mpumalanga, twee in Noordwes en een elk in die Wes-Kaap en die Noord-Kaap.

Volgens die verslag was daar in 2014 67 plaasmoorde en 277 plaasaanvalle. In die eerste ses maande van vanjaar was daar 27 plaasmoorde en 116 plaasaanvalle.

Halfjaarstatistieke van vorige jare is egter nie bekend nie omdat dit die eerste keer is wat dié statistieke bekend gemaak word.

Die statistieke dui dus op die oog af op ’n effense afname vergeleke met 2014.

Genl. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, het gesê aanvalle op hoewes sonder huidige landbouwaarde, word ook by plaasaanvalle ingereken.

Hy het ook gesê dat boere, boere se gesinne, werkers en hul gesinne en besoekers aan die plaas almal as slagoffers gereken word.

Van Zyl het aan Netwerk24 gesê geweld tydens die aanvalle en moorde het vererger.

“Die graad van geweld in 2015 is uitermatig hoog, veral as dit met die verlede vergelyk word. Almal wat op die tonele kom, sê vir my die geweld is baie erger as voorheen.”

Henk van de Graaf, adjunkhoofbestuurder van TLU SA, het gesê die kommandostelsel, wat in 2003 afgeskaf is, moet vervang word.

Kobus Visser, woordvoerder van Agri SA se landelike beveiliging sê hulle hou nie statistiek by oor plaasmoorde of aanvalle nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.