Volgens Dokters Sonder Grense (MSF) is die meeste van die infrastruktuur in Jemen so beskadig na herhaaldelike lugaanvalle, dat dit tot ‘n volskaalse humanitêre krisis gelei het.
Druk is besig om toe te neem teen die Saoedi-koalisie, met menseregte-organisasies wat beweer dat die aanvalle internasionale reg oorskry.
Human Rights Watch het die Verenigde State beskuldig van medepligtigheid in Saoedi-Arabië se oorlog van aggressie teen Jemen.
HRW het Dinsdag aangekondig dat Washington aanspreeklik is vir die onwettige aanvalle omdat die Amerikaners brandstof verskaf aan Saoedi-vegvliegtuie wat die aanvalle uitvoer asook intelligensie aan die koalisie verskaf.
MSF het intussen ‘n pleidooi aan vegtende partye in die oorloggeteisterde Jemen gelewer om op te hou om burgerlikes te teiken.
Voortslepende lugaanvalle en gevegte het nou so erg geword dat die land in ‘n humanitêre krisis gedompel is.
Volgens MSF se Jens Pedersen, is hulle nie net bekommerd oor hul personeel se veiligheid nie, maar die nood vir mediese voorraad het nou ‘n krisis bereik.
Hy sê kos kom nie by burgerlikes uit nie en noodsaaklike infrastruktuur is onherstelbaar vernietig.
Volgens Pedersen benodig sowat 80% van die Jemenie-bevolking humanitêre hulp, terwyl nagenoeg ‘n miljoen mense sonder heenkome sit.
Saoedi-Arabië teiken Jemen al sedert Maart sonder enige toestemming van die VN of die internasionale gemeenskap.