Nog dodelike malaria in Pretoria gediagnoseer

Deel op

’n Vrou van Hartbeespoort is verlede maand uit die bloute met ‘n dodelike vorm van malaria gediagnoseer, het Rekord Noord berig.

Dokters het die 29-jarige Anneli Wydeman vir tien dae in ’n gekontroleerde koma gelaat om haar lewe te red.

Sy is op 12 Junie uit in die Netcare Montana-hospitaal ontslaan en is stadig besig om die pad na herstel te loop.

“Dit is onwerklik dat ek malaria opgedoen het. Ek was nêrens waar ek dit kon kry nie. Ek was wel ’n hele paar weke gelede net vir ’n naweek in Pilanesberg wat ’n malaria-vrye omgewing is. Dit spook by my.”

Wydeman is met Plasmodium falciparum gediagnoseer, wat volgens die Wêreld-gesondheidsorganisasie (WGO) die dodelikste van die vier soorte malaria is.

Sy sê sy het op 28 Mei ‘n hoë koors van 41°C gehad en het onmiddelik haar huisdokter besoek. Sy het aanvanklik vermoed sy het griep opgedoen, maar nie veel aandag daaraan gegee nie.

Hoewel die dokters bloedtoetse laat doen het, het niemand vir malaria getoets nie. “Dit is mos nou die laaste ding wat op ’n persoon se brein is – malaria.”

Sy sê op 30 Mei het haar man Wikus haar na die Montana-hospitaal vir verdere behandeling gebring.

“’n Dokter het my net daar en dan vir malaria gediagnoseer. Malaria kan ’n mens se dood veroorsaak as jy dit nie vroeg genoeg ontdek nie.”

Wydeman is die tweede slagoffer van malaria in die afgelope maand.

Reinhardt Myburgh (14 maande) is vroeër in Mei ook in die Netcare Montana-hospitaal opgeneem nadat hy met malaria gediagnoseer is.

Volgens WGO word malaria uitsluitlik deur die vroulike Anopheles muskiet oorgedra.

ER24 woordvoerder Chitra Botha sê malaria-simptome verskyn so ‘n week of twee nadat iemand besmet is. Dit sluit in koors, hoofpyn, kouekoors, gewrigspyn, duiseligheid en naarheid.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.