Die rondloper leeu in die Karoo is uiteindelik vasgetrek.
Die driejarige leeumannetjie wat as Sylvester gedoop is, het boere in die omgewing die afgelope drie weke op hol gehad omdat hy selfs ervare spoorsnyers ontduik het.
Hy het blykbaar deur ‘n stormwatersloot van die Karoo Nasionale Park ontsnap. Die dier het ‘n bloedspoor van negentien skape, ‘n donkie en ‘n koedoe agtergelaat.
Die leeu is Maandagmiddag opgemerk waar hy op ‘n rots in die Nuweveldberge op Palmietfontein in die son gelê het.
Hy is vanuit ‘n helikopter met ‘n doofpyl geskiet en na die park teruggeneem.