Dagklokreël in dele van Sierra Leone weens Ebola wat versprei

Deel op

In reaksie op tekens dat Ebola in sommige dele van die land versprei, het die Sierra Leoniese president Ernest Bai Koroma net voor die naweek ‘n dagklokreël ingestel waarvolgens mense verbied word om tussen 6 vm en 6 nm uit hul huise te gaan. Die reël, wat inwoners van die noordwestelike distrikte Kambia en Port Loko, prakties onder huisarres plaas, sal vir 21 dae geld. Enigiemand wat die reël verbreek, sal in die tronk gesmyt word.

 

Die verbod op mense om hul huise te verlaat volg op verslae dat daar weer nuwe gevalle van Ebola in die noordweste van die land aangemeld word. Tot dusver het 3 900 mense aan die siekte in Sierra Leone gesterf.

Die buurland Liberïe is in Mei “Ebola-vry” verklaar, maar dit blyk dat Sierra Leone en Guinee nie so maklik dié status gaan verwerf nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het verlede week Woensdag verklaar dat die “agteruitgang van die virus wat in April en Mei duidelik was, intussen stagneer”.

In die week van 7 tot 15 Junie is daar 31 nuwe gevalle in Sierra Leone aangemeld en 16 in Guinee, waar die uitbraak in Desember 2013 begin het.

In die vorige week is 13 nuwe gevalle in Guinee aangemeld, wat ‘n duidelike toename teenoor die nege in die vorige week verteenwoordig.

Volgens die WGO-verslag, “is dit die tweede agtereenvolgende weeklikse toename in voorkoms (van die siekte) en die hoogste weeklikse totale getal gevalle wat sedert laat Maartmaand in Sierra Leone aangemeld is”.

Ebola is een van die dodelikste virusse wat aan die mense bekend is en versprei deur kontak met die liggaamsvloeistowwe van iemand wat simptome daarvan toon, soos byvoorbeeld koors of naarheid.

Sedert Ebola in Mei verlede jaar in Sierra Leone begin versprei het, het die regering telkens plaaslike en landwye klokreëls ingestel om die epidemie hok te slaan.

Palo Conteh, die hoof van die Nasionale Ebola-reaksiesentrum in Sierra Leone, skryf die onlangse toename in Port Loko en Kambia toe aan “mense wat net hardkoppig is en die verkeerde dinge doen wat die oordrag aanblaas”.

“Die was van lyke en geheime begrafnisse is aan die gang en mense vat die siekes na toordokters toe,” sê hy.

Amadu Koroma, ‘n plaaslike regeringsklerk in Kambia, sê toordokters vind dikwels ‘n omweg verby amptelike ingange en uitgange om pasiënte in die suide van Guinee, die episentrum van die verspreiding, te behandel.

“Mense ontsnap snags van huise wat onder kwarantyn verkeer en eindig in Port Loko waar familielede toordokters inbring om hulle in geslote vertrekke te behandel,” sê hy.

‘n Parlementslid verkeer is tans op borgtog vrygelaat omdat hy beveel het dat sy 106 jaar oue vader in Kambia in Mei verlede jaar gewas, aangetrek en begrawe moet word.

Die gesondheidsministerie het verklaar dat daar 22 mense in Ebola-behandelingsentra in Kambia en Port Loko verkeer, terwyl 342 onder kwarantyn in daardie twee distrike in die westelike gebied, waaronder die hoofstad Freetown, geplaas is.

Die aankondiging van ‘n dagklokreël is gemaak kort nadat Sierra Leone die landswye noodtoestand vir nog 90 dae verleng het, ongeag die oproepe deur politici in die opposisie dat beperkings in Ebola-vrye distrikte opgehef moet word.

Die president het egter sekere toegewings aangekondig, onder meer aan sake-ondernemings ten einde ekonomiese groei te stimuleer.

Kruidenierswinkels en markte – wat teen 18:00 moet sluit – sal voortaan toegelaat word om tot 21:00 oop te bly in die meeste dele van die land.

Restaurante, wat ook aan ‘n aandklokreël vanaf 18:00 onderhewig was, mag nou tot 22:00 oop bly, terwyl motorfietstaxi’s, wat voorheen nie ná 19:00 kon werk nie, ‘n ekstra twee ure gegun word.

Inwoners van Freetown het die veslappings verwelkom, veral noudat Sierre Leone se vier miljoen Moslems steeds die heilige maand van Ramadan vier.

“Dit stel ons in staat om teen 19:00 die vas in die moskee te beëindig en dan kos van restaurante en koswinkels agterna te gaan koop,” sê Alieu Sheriff.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.