Cosatu teken staatloonooreenkoms

Deel op

Staatsdiensvakbonde wat by Cosatu geaffilieer is en wat 52% van die Staatsdiens se werkers verteenwoordig, het in die vroeë oggendure ‘n nuwe drie jaar salarisooreenkoms onderteken.

Daar is ooreengekom op ‘n verhoging van sewe persent wat aanvanklik deur die regering goedgekeur is.

‘n Nuwe klousule is aanvaar dat verhogings vasgestel sal word op grond van die Tesourie se inflasieberamings.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor staatsadministrasie het die nuwe loonooreenkoms tussen staatsvakbonde en die regering verwelkom.

Luidens ‘n verklaring is die nuwe ooreenkoms ‘n stap in die regte rigting om die verhouding tussen die regering en sy werknemers te verbeter.

Die komitee het egter gemeld dat die dooiepunt wat tydens die onderhandelings bereik is, nie weer moet plaasvind nie.

Business Day het vroeër vandeesweek berig dat staatsamptenare ‘n 7% verhoging sal ontvang na ingryping deur politici.

Sommige werknemers het op ‘n sloerstaking gegaan oor 0.6% wat van personeel verhaal sou word vir oorbetaling verlede jaar.

Die president van Cosatu, Sdumo Dlamini het intussen bewerings verwerp dat die nuutgestigte vakbond, LIMUSA geen lede het nie.

Dlamini het gepraat op die laaste dag van die eerste LIMUSA kongres in Durban. Dlamini het onderneem dat Cosatu LIMUSA sal steun om die vakbond te help groei. Hy sê LIMUSA is die nuwe tuiste van metaalwerkers.

Intussen het die SAKP se nasionale adjunk-voorsitter, Thulas Nxesi gesê daar is geen teenstrydigheid in die party se steun van LIMUSA nie.

Hy sê die SAKP steun LIMUSA omdat NUMSA nie meer deel van Cosatu is nie. Hy het ‘n beroep gedoen op metaalwerkers om saam te staan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.