Karel Combrinck: Lieflingsobsessies van die linkses

Deel op

‘n Interessante situasie is in die Midde-Ooste aan’t ontwikkel. ‘n Sweedse omgeboude vistreiler met jeugdige aktiviste aan boord is onderweg na die kus van Gasa om die land- see- en lugblokkade wat die Israeli’s sedert 2006 daar in stand hou, te probeer verbreek. Om dit nog interessanter te maak, voer die Islamitiese staat (ISIS) skynbaar in die mou om die skip aan te val ten einde nog meer aandag op die situasie te vestig.

Die skip, die Marianne av Gothenburg, met ‘n onbekende aantal jong aktiviste aan boord, is tans in die Middellandse See, waar dit vanaf Sisilië, oor Kreta na die Oos-Middellandse See onderweg is met as finale bestemming, die kus van Gasa, waar dit by ander vaartuie gaan aansluit om, wat bekend staan as die « Flotielje 111″, te vorm.

Lesers mag nog onthou van die insident in 2010 toe ‘n groep van ses skepe uit Turkeie na die Gasagebied gevaar het met die doel om die blokkade te ontset en om humanitêre hulp aan die inwoners van die Gasastrook te verleen. Die flotielje is in internasionale waters deur die Israeliese vloot en lugmag onderskep en nege van die opvarendes is gedood.

Uiteraard is dit vir ons, as Afrikaners, moeilik om veel simpatie of ondersteuning te betoon met ‘n Sweedse inisiatief van watter aard ook al, selfs wanneer dit op die oog af geregverdig is. Nietemin is dit so dat die Israeli’s sedert 2006 van Gasa ‘n soort opelugkonsentrasiekamp gemaak het, deur ‘n militêre blokkade wat die mense van die gebied van alle verkeer met die buitewêreld ontneem het, met gepaardgaande hongersnood, siektes en ellende.

Die blokkade, wat ingevolge die volkerereg geheel en al onwettig is, het die »internasionale gemeenskap » tot dusver maar relatief min gesteur. Die volkereg, soos telkemale reeds aangetoon, kom in die praktyk neer op weinig meer as bloot die wil van die magtigste, d.w.s. Amerika. Soos in baie ander situasies moet die begrip « internasionale gemeenskap », hier ook verstaan word as ‘n eufemisme vir wat Amerika aanneemlik vind. En in aangeleenthede betreffende die Midde-Ooste is Amerika die volledige en gewillige lakei van die Israeli’s.

Die Islamitiese staat, bekend as ISIS, is ‘n ekstremistiese Soenni-organisasie wat, danksy Amerikaanse bemoeienis reeds die helfte van Irak beheers en dreig om Sirië ook te oorrompel, en wat bande het met militante groepe in Gasa. Daarom sou ‘n mens wou dink dat ISIS die Sweedse skip goedgesind sou wees, maar in hierdie deel van die wêreld maak dit nie sin om sin te maak nie. ISIS is bloot een van die rolspelers in die gebied, maar ‘n giftige en gevaarlike een. Die probleem wat ‘n mens het met Israel is dat hulle vyande dikwels so weersinwekkend is dat dit selfs die Israeli’s goed laat lyk.

Vanselfsprekend is die media in hierdie geval so ietwat oorhoops, want hulle het te make met teenstrydighede tussen omtrent al hulle lieflingsobsessies. Hulle beheptheid met die Jodedom enersyds en met die Palestyne van Gasa andersyds (‘n rassesituasie!), en met die reg van linkses om te betoog en te manifesteer kom hier heel netjies bymekaar. Vandaar dan ook die relatiewe mediastilte oor die situasie rondom die Sweedse skip. Ons sal maar kyk hoe lank hulle dit kan ignoreer. Net totdat die eerste lyke weer begin huis toe kom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.