Druk op Phiyega neem toe

Deel op

Die Parlementêre portefeuljekomitee vir Polisie sê die Minister van Polisie, Nathi Nhleko, sal binne die volgende twee maande versoek word om verslag te doen oor hoe die aanbevelings van die Marikana-verslag ingestel sal word.

Die Marikana-verslag oor die skietery van Augustus 2012 by Lonmin se Marikana-myn is deur pres. Zuma in ‘n regstreekse uitsending bekend gemaak en beveel onder meer aan dat die geskiktheid van die Polisiekommissaris, Riah Phiyega, en die provinsiale kommissaris in Noordwes ondersoek word.

Die portefeuljekomitee-voorsitter, Francois Beukman, sê die verslag het die belangrikherid van `n geloofwaardige en effektiewe polisie-leierskap beklemtoon.

Volgens Beukman sal die komitee die Farlam-kommissie se Marikana-verslag bestudeer en die aanbevelings wat daarin vervat is, opvolg.

Verskeie opposisiepartye het gereageer na die bekendmaking. Politieke partye het gesê daar moet onmiddellik gehoor gegee word aan die aanbevole ondersoek na die nasionale polisiekommissaris.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê hy voel bedruk oor die verslag omdat dit alle Suid-Afrikaners te na kom.

Die leier van die EFF, Julius Malema sê hy aanvaar nie dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa onskuldig is in die saak nie, en dat die party hom sal vervolg.

Die IVP sê intussen dat hy nog altyd volgehou het dat Phiyega nie gekwalifiseerd was om die pos te vul nie. Die party vra dat Phiyega en al die beamptes wat betrokke was by die ernstige taktiese en oordeelkundige mistastings, geskors word.

Die regsverteenwoordigers van mynwerkers wat beseer en in hegtenis geneem is tydens die skietery drie jaar gelede, sê die vrystelling van die verslag is nie die einde van die saak nie.

Die regsverteenwoordigers, Muzi Msimang en Dali Mpofu sê hulle beplan nou burgerlike eise.

Msimang sê daar moet nog gesoek word na maniere om werklik slagoffers se smart te verlig.

Intussen word daar ook in die verslag aanbeveel dat ondersoek deur die Nasionale Vervolgingsgesag gedoen moet word om te bepaal of enige mense, onder wie die polisie, vir die sterftes by Marikana vervolg kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.