Zuma maak Marikana-verslag bekend

Deel op

President Jacob Zuma het die verslag oor die gebeure van Augustus 2012 by Lonmin se Marikana-myn in ‘n regstreekse uitsending bekend gemaak.

Die Farlam Kommissie van Ondersoek het aanbeveel dat die geskiktheid van die polisiekommissaris, Riah Phiyega vir haar pos, ondersoek moet word in die lig van die skietery by Marikana.

‘n Ondersoek na die geskiktheid van die nasionale polisiekommissaris en die voormalige provinsiale kommissaris om in hul ampte te dien, sal aanstons geloods word.

Die bevindings van die kommissie teen Phiyega is verdoemend. Die polisiekommissaris het onder eed voor die kommissie gelieg.

Die president sê hy het Phiyega oor die aanbeveling ingelig.

Hy het glo ‘n paar maande gelede aangebied om haar te herontplooi, maar sy het blykbaar geweier.

Die Farlam-kommissie is ingestel ná die Marikana-slagting op 16 Augustus 2012 waarin 34 stakende mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is ná geweld in die voorafgaande dae waarin 10 mense dood is.

Terwyl die skuld vir die tragedie op die polisie se leierskorps en hul hantering van die operasies op dié dag gepak word, is ‘n sleutelfiguur soos Cyril Ramaphosa van alle blaam onthef.

Volgens die Farlam-kommissie kon daar geen bewys gevind word dat Ramaphosa verantwoordelik gehou kan word vir sterftes nie.

Zuma sê die kommissie het bevind dat die president van Amcu, Joseph Mathunjwa sy bes gedoen het om die stakende mynwerkers van die koppie in Marikana af te kry waar hulle bymekaar gekom het.

Die vakbond is egter daarvan beskuldig dat hy nie behoorlike beheer oor sy lede gehad het nie.

Zuma sê die kommissie het ook bevind dat die mynmaatskappy, Lonmin die krisis op verskeie fronte beter moes hanteer het.

Lonmin se reaksie op die voortslepende staking en geweld was onvanpas en onverskillig in sy aandrang dat nie-stakende mynwerkers vir diens moet aanmeld.

Die NUM is daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg gedoen het om konflik tussen mynwerkers te besleg nie en het die verkeerde raad aan sy lede oor loononderhandelinge deurgegee.

Die taktiese plan van die polisie was vol gebreke en die besluitnemingsmag is deur die polisie se nasionale beheersentrum van bevelvoerders op grondvlak weggeneem.

Die besluit om op te tree is dus geneem deur die polisie se provinsiale kommissaris vir Noordwes, lt.genl. Zukiswa Mbobo, wat sedertdien afgetree het, asook die nasionale beheersentrum.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.