Babahond met piksteel doodgeslaan

Deel op

’n Sewe maande oue Airedale-kruising is in ’n woonbuurt in Windhoek na bewering met ’n piksteel doodgeslaan. Die beplande lot van die babahond was glo om as ’n maaltyd opgedis te word, het die Republikein berig.

Volgens me. Brigitte Meissner van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek het die voorval Maandag omstreeks 12:00 op ’n bouperseel naby die Bougainvillea-winkelsentrum in Klein Windhoek plaasgevind.

Volgens ooggetuies is die hond glo herhaaldelik deur ’n Chinese burger met ’n piksteel geslaan. Die plan was glo dat hy die dier daarna sou eet.

Meissner sê die DBV is deur ’n “histeriese inwoner” gebel wat hulle oor die voorval ingelig het. ’n Inspekteur is dadelik na die perseel gestuur, maar die verdagte was met sy aankoms skoonveld.

“Net ’n paar bloedkolle is gevind, maar met verdere ondersoek is die dooie hondjie in een van die onvoltooide kamers op die bouperseel gevind. Die hond is met ’n pik doodgeslaan en het verskeie kapwonde gehad.”

Volgens Meissner was verskeie mense glo getuies van die voorval en het iemand selfs ’n video-­opname daarvan gemaak.
“Mense het dit gehoor en gesien en glo selfs probeer keer.” Nie een van die ooggetuies het egter tot dusver ’n verklaring by die polisie afgelê nie.

“My hande is afgekap as ek nie verklarings hieroor het nie. Oog­getuies wil glad nie na vore kom nie.” Volgens Meissner kan sy nie die voorval aanmeld voordat sy nie volledige bewyse van die voorval het nie.

“Die stadspolisie was wel saam met ons inspekteur uit na die toneel en is bewus van die voorval.”

Volgens Meissner is dit nie in Namibië ’n oortreding om ’n hond te eet nie, maar sal die persoon van dieremishandeling aangekla word. Dit is voorts onwettig om ’n dier in ’n munisipale gebied te slag.

Die DBV beplan om die voorval ook onder die aandag van die Chinese ambassade sowel as die kantoor van die Ombudsman te bring.

“Hoe meer verklarings ons oor die voorval van getuies kan kry, hoe beter.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.