Oorklassifisering lei tot verdeeldheid

Deel op

08:59:59 Ek dink die probleem met baie Boerevolkers – net soos sekerlik met sommige Afrikanervolkers – is 'n behoefte om die "volk" te oorklassifiseer en of selfs te kategoriseer. Terwyl etniese klassifikasie van waarde is om ons eie identiteit te verstaan, moet ons sekerlik ruimte laat vir die vloeibaarheid van volksidentiteit. Die kategorieë Boer en Afrikaner dui op tydsgrepe in ons volk se proses van evolusionêre ontwikkeling.

Deel op

Net soos Johann Wingard my verkeerdelik as voormalige Broederbonder, FAK- of Afriforumlid wil kategoriseer, doen hy sy eie volk onreg aan deur 'n te enge definisie. Hoewel ek met sommige aspekte van Wingard se historiese analise saamstem, het ek 'n probleem met sy behoefte om soos meeste "ou regses" die Afrikaner die Boer se mindere te maak. Of die Afrikaner met die ingryping van die NP tot stand gekom het, is werklik nie van belang nie (in elk geval is daardie argument 'n oorvereenvoudiging). Wat van belang is, is die ontstaan van daardie nasionalisme as 'n  historiese werklikheid. Dit het 'n histories bepalende rol vir ons hedendaagse werklikheid en selfdefinisie.

Wingard, soos die meeste Boerevolkers, probeer ons volksevolusie omdraai deur ons terug te  definieer tot in die 19de eeu. Sy neerhalende en ekslusiewe verwysing na die "Cape Dutch" is simptomaties van hierdie retrospektiewe volksdefiniëring. Dit is dan ook hier waar die Afrikanervolk 'n meer inklusiewe term is wat, anders as die "Boerevolk", voksgenote buite die Transvaal insluit eerder as om hul te vervreem. M.E.R. het mos gesê: "Paul Kruger is dan ook in die Kaap gebore!"

Net soos die Burghers van die twee republieke en die Kaapkolonie 'n gedeelde en afsonderlike verlede had, bestaan die werklikheid dat verskeie invloede (uniewording, nasionalisme, ens.) hul in die 20ste eeu in een volk saamsnoer.  Bloot omdat individue die "eksperiment" of metode wat dit tot stand gebring het afkeur, maak nie daardie ontwikkeling ongedaan nie. Die Burghers ("Boere") was 'n werklikheid, net soos die Afrikaner 'n werklikheid geword het. Dis wel so dat Afrikanervolksidentiteit weens die afgang van die Afrikanerstaat skade gelei het, maar die magte van Westerse modernisering het waarskynlik net soveel en dalk selfs meer daarmee te make. Die belangrikste feit is dat die volksevolusie voortgaan.

Skoolkinders se vertoon van die Vierkleur, die Republiekvlag by sportbyeenkomste, nuutgevonde belangstelling in Afrikaner- en Boeregeskiedenis, Afrikaanse musiek, en so meer, is alles verblydende ontwikkelinge. Nogtans beteken dit nie die herrysing van die "Boerevolk" nie. Laasgenoemde is doodeenvoudig nie moontlik nie want die Boerevolk – net soos die Afrikanervolk van die Verwoerdera – is in tyd en ruimte beperk. Doodgewoon, daardie sosiaal-politieke verskynsels kan nie herleef nie. Ons etniese wese en die omstandighede is net te geheel anders. Ons etniese voorgangers is wel belangrike motiveerders vir die mobilisiering en herontwaking van ons volksnasionalisme. In die huidige konteks is die groeiende behoefte aan volksidentiteit waarskynlik 'n respons op die swart verdrukking van die Afrikanervolk. Dit maak dit geensins minder geldig nie.

Wingard kan nie deur die terugroep van die skelwoord, "Cape Dutch", die skoolseun in Caledon, Orania of Bellville wat die Vierkleur, Rebellevlag of Prinsevlag op sy tas geverf het uit ons volksbestaan definieer nie. Die Boerevolkers kan nie die horlosie tot die jaar 1900 terugdraai nie. Die proses gaan voort en 'n volk kan nie in 'n histories beperkende kategorie geplaas word nie.

Ongeag of Afrikaners die uitstekende "Ons vir jou" in hul duisende bywoon, is ons nie weer "Boere" (Burghers) nie. Ons hedendaagse politieke, kulturele en ekonomiese wêreld is net te ver verwyderd daarvan. Nogtans kan dit as waardevolle instrument dien om volksnasionalsme aan te wakker. Meeste volke oor die ganse wêreld lyk vandag radikaal anders as 'n eeu gelede. Die wese en aard van 'n volk is nóg staties nóg permanent.

Hoe dit ook al sy, in Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein of waar ook al: ons volksnasionalisme is besig om te herontwaak. Net soos die Boerevolkers ons nie in die verlede kan laat leef nie, kan die linkses ons nie in 'n vae en gedeëtnifiseerde omskrywing (Afrikaanses) druk nie. 'n Volk se wese en strekking is nie uitgelewer aan ideoloë nie. Hul manipulasie is gewoonlik beperk tot dít wat die volk as aanvaarbaar beskou.

Of ons onsself Boere of Afrikaners noem, is minder relevant as die feit dat ons deur 'n grootse bestaanskrisis gekonfronteer word. Hierdie is ons krisis, in ons ruimte en tydsgewrig. Ons s'n verskil radikaal van ons voorouers se ervaring. Die hede bly iewers tussen die verlede en die toekoms. Ter wille van ons oorlewing as etniese en rasseminderheid mag ons nie onself intern kompartementaliseer nie. Ons moet die verlede respekteer, maar ons kan nie daarin leef nie.

воронеж шестигранники,лобановский александр досье

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.