IMF, landbou waarsku teen kragverhogings

Deel op

Eskom sal moontlik nie hierdie jaar verdere tariefstygings aan al sy kliënte kan deurgee nie, na waarskuwings van die IMF en landbou.

Tydens die verhoor van die Nasionale Energieguleerder oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings, het die kragreus gevra vir ‘n bykomende tariefverhoging van meer as nege persent vanjaar.

Eskom vra vir die verdere tariefverhoging van meer as nege persent van die energiereguleerder, NERSA, behalwe die 12 persent wat reeds toegestaan is.

Agri SA het vroeër gewaarsku dat ‘n bykomende Eskom tarief-verhoging van meer as 25 persent daartoe sal lei dat boere nie genoeg kos kan produseer om die mense van Suid-Afrika te voed nie.

Die landbou-organisasie het gesê Suid-Afrika beleef sy ergste droogte in 20 jaar.

‘n Senior ekonoom van Agri SA, Thabi Nkosi het gesê die landbousektor het al vanjaar ’n geraamde skade van meer as nege miljard rand gely weens die droogte, wat tot groot skuld onder boere gelei het.

Die Internasionale Monetêre Fonds het ook gewaarsku dat Suid-Afrika se voortdurende kragkrisis die grootste struikelblok is vir groei.

Die IMF sê in ‘n verslag oor Suid-Afrika met die kragkrisis wat al hoe meer verdiep, word slegs ‘n matige herstel tot ‘n twee persent groei vir 2015-2016 verwag.

Staatshulp aan die sukkelende Eskom en wegholstaatsdienslone sal openbare finansies knou, volgens die IMF.

Eskom se waarnemende uitvoerende hoof, Brian Molefe, was Dinsdag in die warm stoel toe hy die onbenydenswaardige taak gehad het om te pleit vir nog regeringshulp.

Molefe en sy span het besonder onvoorbereid vir die verhore opgedaag, en energiereguleerder het Eskom se voorleggings uitmekaar geskeur.

Eskom argumenteer dat hulle sonder ‘n bykomende R16 miljard vir diesel en korttermynkragaankope, beurtkrag van Fase Twee as ‘n daaglikse werklikheid sal moet aanvaar.

Volgens ‘n brief van die Nasionale Tesourie aan munisipaliteite sal enige tariefverhoging wat na 15 Mei vanjaar aangekondig is, na die volgende finansiële jaar oorgedra moet word.

NERSA het die brief tydens die verhoor aan Eskom oorhandig. Molefe en sy span was klaarblyklik nie daarvan bewus nie.

Volgens ‘n woordvoerder van NERSA, Thembani Bukula, was hulle wel bewus van die regering se opdrag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.